Nuus 07:00
BULLETIN 5 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Amnestie Internasionaal sê die regering laat die miljoene wat in informele nedersettings vasgevang is, in die steek
# FNB-ekonome sê die brandstofprysverlagings kan inflasie vertraag
# En rugby: Die Bokke verwag nie ‘n wraakwedstryd teen die Franse nie
# Amnestie Internasionaal Suid-Afrika beskuldig die regering dat hy vyf-miljoen mense wat in plakkerskampe woon, in die steek laat. Baie van hulle woon op grond wat gereeld oorstroom word. Die organisasie ondersoek in sy jongste verslag, Flooded and Forgotten: Informal Settlements and the Right to Housing in South Africa, die voorkoms en uitwerking van oorstromings op inwoners van informele nedersettings, spesifiek in Johannesburg, eThekwini en Kaapstad. Amnestie Internasionaal Suid-Afrika se uitvoerende direkteur, Shenilla Mohamed, sê die regering moet voorkeur gee aan die opgradering van plakkerskampe en ramprisikobestuur by stadsbeplanning insluit.
# Die adjunkminister van Polisie, Polly Boshielo, sê Vusimuzi ‘Cat’ Matlala se tender van ‘n multi-miljoen-rand was die enigste kontrak waaroor die minister van Polisie, Senzo Mchunu, verlede jaar na sy aanstelling bekommerd was. Matlala se maatskappy, Medicare 24 Tshwane-distrik, het in Junie verlede jaar ʼn tender van 360-miljoen-rand gekry om gesondheidsdienste aan die polisie te lewer, al het hulle geen behoorlike kwalifikasies gehad nie. Boshielo het aan die parlementêre ad hoc-komitee gesê sy was verras dat Mchunu by die tender betrokke geraak het:
# Ekonome van FNB sê petrol- en dieselprysverlagings kan help om inflasie te vertraag en verbruikersvertroue verbeter. Van vandag af is 93-oktaan- en 95-oktaan-petrol 51-sent per liter goedkoper, terwyl dieselpryse met 19- tot 21-sent per liter daal. FNB-ekonoom, Paul Makube, sê laer brandstofkoste help met vervoer- en produksiekoste, wat huishoudings meer besteebare inkomste gee en ondernemings, insluitend landbou en logistiek, ondersteun:
# Nog drie verdagtes, tussen 17 en 20 jaar oud, is vasgetrek in verband met die dubbele moord in Westbury, Gauteng, wat die getal arrestasies op vyf te staan bring. Dit volg nadat ʼn groep tieners verlede maand geskiet is. Twee is dood en talle ander is gewond. Polisiewoordvoerder, Brenda Muridili, sê die drie is gearresteer nadat hul ouers en prokureurs hulle na die polisie gebring het:
# Minstens 46 mense, insluitend ses bemanningslede van ʼn militêre Huey-helikopter, is dood nadat die tifoon Kalmaegi swaar reën en oorstromings in sentraal-Filippyne veroorsaak het. Die meeste sterftes, hoofsaaklik weens verdrinking, was op die digbevolkte eiland, Cebu. Duisende mense moes uit hul huise vlug. Die tifoon het verswak nadat dit gister land bereik het, maar die wind bly sterk. Die Filippyne word jaarliks deur sowat 20 storms en tifone getref.
# Rugby: Die Springbokke verwag nie dat Frankryk wraak sal wil neem wanneer hulle Saterdag in Parys teen mekaar speel nie. Dit is die twee spanne se eerste ontmoeting sedert Suid-Afrika die gashere in die kwarteindronde van 2023 se Wêreldbeker-toernooi geklop het. Dit het gelei tot groot kritiek op skeidsregter Ben O’Keefe en doodsdreigemente teen sommige Bokke. Hulpafrigter Felix Jones sê hulle sal slegs op hulle eie spel fokus. Hy erken dat hulle die Franse as ‘n groot bedreiging beskou en besef dat hulle die regte span moet kies.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-54-sent teen die dollar, 20-rand-16-sent teen die euro en 22-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-705-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-938-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….