Nuus 07:00
BULLETIN 4 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê dit is belangrik dat Suid-Afrika sy handelsbetrekkinge diversifiseer
# Die DA doen ‘n beroep op optrede nadat die hof die NERSA-tariefproses ongrondwetlik verklaar
# En OUTA sê sterker bande tussen burgerlike groepe en wetgewers is noodsaaklik vir openbare vertroue
# President Cyril Ramaphosa sê te midde van wêreldwye ekonomiese onsekerheid is dit belangriker as ooit dat Suid-Afrika sy handel- en beleggingsbande diversifiseer. Die president was verlede week op ‘n staatsbesoek aan Indonesië, Maleisië en Viëtnam. In 2024 was die gesamentlike handelswaarde tussen Suid-Afrika en hierdie drie lande 83-miljard-rand. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief die lande het ooreengekom om saam te werk om vrede en sekuriteit, klimaatsoptrede en volhoubare ontwikkeling na te streef.
# Die DA versoek die Parlement se Elektrisiteitskomitee om die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika tereg te wys na die uitspraak deur die Hooggeregshof van Gauteng dat sy 2025/26 prosesse vir munisipale elektrisiteitstariewe ongrondwetlik is. Kevin Mileham van die DA het NERSA gekritiseer vir herhaalde mislukkings, insluitend gebrekkige berekenings vir die koste van voorsiening, en het die hof se tydlyne en openbare konsultasiemodel verwelkom. Hy sê die party belowe om nakoming te monitor en te verseker dat Suid-Afrikaners billike, wettige en deursigtige elektrisiteitspryse betaal:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê sterker bande tussen burgerlike groepe en provinsiale wetgewers is noodsaaklik vir die herbou van openbare vertroue in staatsbestuur. Tydens ‘n onlangse simposium in Kaapstad het OUTA en die Wes-Kaapse provinsiale parlement voortgesette samewerking belowe om te verseker openbare insette het ‘n werklike impak en dra by tot groter verantwoordbaarheid en deursigtigheid. Praktiese maatreëls wat voorgestel is, sluit in oopdata-instrumente, wetgewing in gewone taal en gestruktureerde betrokkenheid tussen komitees en die burgerlike samelewing. OUTA sê noue samewerking met gemeenskappe verseker dat openbare insette besluitneming bevorder.
# Ekurhuleni se waarnemende burgemeester, Jongizizwe Dlabathi, sê die wetteloosheid in Reigerpark is voortslepend en buite beheer. Dit volg nadat ses mense die naweek in ʼn verbyry-skietery in die gebied dood is. Dlabathi het die slagoffers se gesinne gister besoek. Die motief vir die aanval is onbekend en niemand is nog in hegtenis geneem nie. Hy sê daar is ʼn dringende behoefte aan ʼn omvattende strategie om bendebedrywighede, dwelmmisbruik en georganiseerde misdaad te bekamp:
# Die voormalige prokureur van Israel se weermag, generaal-majoor Yifat Tomer-Yerushalmi, is gearresteer. Dit volg nadat sy erken het sy het verlede jaar beeldmateriaal laat uitlek van soldate wat na bewering ʼn Palestyne aangehoudene aanrand, maar toe in die hof oor haar optrede gelieg. Vyf reserviste is aangekla dat hulle die aangehoudene ernstig aangerand en beseer het. Tomer-Yerushalmi is gearresteer weens vermeende bedrog en vertrouensbreuk, ampsmisbruik, regsverydeling en die bekendmaking van amptelike inligting deur ʼn staatsamptenaar.
# Rugby: Die hoofafrigter van Ierland, Andy Farrell, wil vir die res van hul herfsveldtog geen verdere verskonings van sy span hoor nie nadat hulle Saterdag met 26-13 teen die All Blacks in Chicago in die VSA verloor het. Die Iere het hul voorsprong van 13-7 na 60 minute vermors om vir die derde agtereenvolgende wedstryd teen Nieu-Seeland te verloor. Hulle speel volgende naweek teen Japan in Dublin. Farrell glo Ierland kan in die oorblywende tuiswedstryde in November herstel teen Eddie Jones se span, die Wallabies en die Springbokke.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-93-sent teen die euro en 22-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-10-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-979-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….