Nuus 07:00
BULLETIN 18 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# OPOD trek twee vas oor die diefstal in Killarney van edelstene ter waarde van 14-miljoen-rand
# Die Openbare Beskermer waarsku ‘n tekort aan gesondheidpraktisyns bedreig voedselsekerheid
# En rugby, die Stormers behaal ‘n oorwinning oor die Griekwas
# Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat het twee persone in hegtenis geneem in verband met die diefstal in 2023 van edelstene ter waarde van R14-miljoen uit ‘n privaat woning in Killarney. Woordvoerder Lizzy Suping sê albei verdagtes sal Maandag in die Johannesburgse Landdroshof verskyn. Sy sê daar was aanvanklik ses verdagtes maar een is intussen dood:
# Die Openbare Beskermer, Kholeka Gcaleka sê die tekort aan omgewingsgesondheidspraktisyns in Gauteng belemmer inspeksies van spaza- en voedselwinkels. Tydens ‘n inligtingsessie oor haar ondersoek na die afdwinging van voedselveiligheid het Gcaleka gesê die provinsie behaal nie die Wêreldgesondheidsorganisasie se aanbevole verhouding van een omgewingsgesondheidspraktisyn vir elke tien-duisend mense nie. Sy sê dringende optrede is nodig om verbruikers te beskerm en die nakoming van voedselveiligheidstandaarde te verbeter:
# Die DA het ‘n klag by die Openbare Beskermer ingedien en ‘n ondersoek gevra na wat hy beskryf as sistemiese diensleweringsmislukkings in Johannesburg. Die party se burgemeesterskandidaat vir Johannesburg, Helen Zille, het na ‘n inspeksie van die Nancefield-rioolpompstasie aan die media gesê voortdurende rioolstortings, onveilige behuising en infrastruktuur wat voortdurend agteruitgaan toon die stad het inwoners in die steek gelaat. Zille vra dringende ingryping en verantwoordbaarheid oor openbare besteding en vertraagde regstellende optrede:
# Amerika het Vrydag ‘n sewende agtereenvolgende nag van aanvalle op Iran uitgevoer. Iran het op sy beurt Amerikaanse bondgenote in die Golf aangeval, met beide kante wat infrastruktuur teiken, terwyl skeepvaart in die Seestraat van Hormoes onder verdere aanvalle deurgeloop het. Die Amerikaanse president Donald Trump het gedreig met grootskaalse lugaanvalle op Iranse infrastruktuur en het nie die moontlikheid van ‘n grondaanval op Iran se kusgebiede of eilande uitgesluit nie. Die VN se Sekretaris-generaal Antonio Guterres het intussen ook kommer uitgespreek oor die toenemende spanning, veral aanvalle op burgerlike infrastruktuur in Iran en in die streek.
# Rugby: Die Stormers het danksy ‘n laat drie deur skrumskakel Stefan Ungerer Vrydagaand die verdedigende kampioene Griekwas met 25-19 geklop in ‘n Curriebeker Premierliga-wedstryd in Kaapstad. Die Stormers was met rustyd 8-12 agter, maar het in die tweede helfte teruggeveg. Vernon Paulo, Mfundo Ndhlovu en Stefan Ungerer het die tuisspan se drieë aangeteken, met twee doelskoppe en ‘n strafskop deur Dominic Malgas en nog ‘n strafskop deur Jean-Luc du Plessis. Sako Makata, Lourens Oosthuizen en Tiaan Lange het vir die Griekwas oorgeduik met George Whitehead wat met twee doelskoppe geslaag het.
En in ander rugbynuus, die Junior Springbok-kaptein Siphosethu Mnebele sê eenheid is die dryfkrag vir die span in vandag se eindstryd in die Junior Wêreldkampioenskappe teen Frankryk in Georgië. Hy prys die spanomgewing en die werketiek en sê hulle is goed voorbereid en opgewonde om Suid-Afrika te verteenwoordig. Suid-Afrika is die verdedigende kampioen nadat hulle Nieu-Seeland in verlede jaar se eindstryd in Italië geklop het. Die Junior Bokke sal ook swart armbande dra ter ere van die voormalige SA onder-18-stut Luqobo Makwedini, wat onlangs in Frankryk dood is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….