Nuus 07:00
BULLETIN 1 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap stel ’n fonds van 2,5-miljard-rand bekend om jeugwerkloosheid te beveg
# Die Wes-Kaapse LUR Anton Bredell glo die Tuinroete kan voldoen aan die vraag na water gedurende die somervakansie
# En krieket, Pakistan vermorsel Suid-Afrika en maak die T20-reeks gelykop
# Die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap het ‘n Nasionale Jeugfonds van 2,5-miljard-rand bekendgestel om werkloosheid aan te pak. Die adjunkvoorsitter, Bonga Makhanya, het tydens die Jeugbeleggingsindaba in Johannesburg gesê die fonds sal oor ‘n tydperk van drie jaar plaaslike en internasionale beleggings lok om ondernemings wat die jeug lei te ondersteun. Hy het ‘n beroep op vennote in die privaat sektor gedoen om ook in die projek te belê:
# Die Parlement se Portefeuljekomitee oor Vervoer het PRASA versoek om ‘n meganisme te skep vir geskilbeslegtings vir ondernemings na kommer oor wanbetaling deur hoofkontrakteurs wat klein besighede dwing om te sluit. Die komitee het die Oos-Rand-korridor besoek en die Daveyton-stasie, Brakpan-substasie en Germiston-brug inspekteer. Hulle wil binne drie weke ‘n verslag sien met oplossings vir hierdie geskille. Die voorsitter, Donald Selamolela sê klein besighede is noodsaaklik vir werkskepping en projeklewering:
# Die DA in Tshwane beweer die metro se inkomste-invordering van 93-persent in September 2024 het ‘n jaar later onder die ANC/EFF/ActionSA-koalisie tot 81-persent gedaal. DA-burgemeesterskandidaat Cilliers Brink sê die daling van 12-persentasiepunte, wat in die jongste begrotingsverslag onthul is, bedreig Tshwane se finansiële bestendigheid en sy vermoë om Eskom te betaal. Hy sê die Tshwane se tekort van 857-miljoen-rand en die afgeskafte stadsreinigingsheffing het die stad sonder ‘n geloofwaardige herstelplan gelaat.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, sê die Tuinroete is gereed om te voldoen aan die vraag na water in die somervakansie. Hy het inwoners en toeriste verseker dat munisipaliteite voorrade versigtig bestuur, met gebeurlikheidsplanne en waterbeperkings in plekke waar dit benodig word. Bo-gemiddelde reënval word van volgende maand tot Januarie voorspel. Bredell sê die streek is goed voorbereid, maar dring aan op verantwoordelike watergebruik.
# Die VN se menseregtehoof het Amerikaanse militêre aanvalle veroordeel op skepe in die Karibiese Eilande en Stille Oseaan wat na bewering dwelms vervoer, en gesê die dodelike aanvalle oortree internasionale reg en kom neer op buitegeregtelike moord. Meer as 60 mense is volgens berigte sedert vroeg September in Amerikaanse aanvalle dood. Volker Türk het Washington versoek om die aanvalle onmiddellik te staak en vinnige, onafhanklike en deursigtige ondersoeke te doen. President Donald Trump het vroeër gesê hy het die regsgesag om voort te gaan en skepe in internasionale water aan te val om die vloei van dwelms na sy land te voorkom.
# En ten slotte, krieket: Pakistan se snelboulers het Suid-Afrika se kolwers Vrydagaand in Lahore almal uitgeboul vir 110 nadat die gashere die loot gewen en die Proteas ingestuur het om te kolf. Pakistan het hulle teiken bereik met 41 balle oor en nege paaltjies in die bank. Die skitterende aanvangskolwer Saim Ayub spog met ‘n onoorwonne 71 van slegs 38 balle. Die oortuigende nege-paaltjie-oorwinning teen Suid-Afrika in die tweede T20 het die reeks gelykop gemaak. Die Proteas het Dinsdag die eerste wedstryd gewen en die reeks van drie wedstryde word vandag in Lahore beslis.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….