Nuus 07:00
BULLETIN 30 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika hoop om binnekort ‘n handelsooreenkoms met die VSA te sluit
# Die twee verdagtes wat gearresteer is in verband met die Louvre-diefstal erken hul betrokkenheid by die rooftog
# En krieket: Suid-Afrika klop Engeland om sy eerste eendag-eindstryd in die Vroue-wêreldbeker te haal
# President Cyril Ramaphosa sê die 30-persent tariewe wat Amerika op Suid-Afrikaanse uitvoere gehef het, het die land genoop om sy handelsomvang te diversifiseer. Die president is op ‘n tweedaagse staatsbesoek aan Switserland. Die land is een van Suid-Afrika se belangrikste Europese handelsvennote met ʼn handelsvolume van 18,2-miljard-rand in 2024. Ramaphosa sê die regering hoop om binnekort ʼn handelsooreenkoms met Amerika te sluit:
Ramaphosa sê Suid-Afrika en Switserland kan bewys ekonomiese groei en voogdyskap oor die omgewing is bondgenote en nie vyande nie. Switserland is een van Suid-Afrika se hoof-handelsvennote en ʼn belangrike bron van regstreekse buitelandse belegging. Ramaphosa het gister die Switserse Parlement toegespreek. Hy sê die twee nasies moet ekonomiese bande versterk, en beleggings hervorm in veranderde lewens en versterkte gemeenskappe:
# Die Departement van Elektrisiteit en Energie sê om teen 2030 universele elektrisiteitstoegang te bereik, sal na raming 75-miljard-rand kos. Daar is 1,6-miljoen oorblywende huishoudings wat nog nie verbind is nie. Die adjunk-direkteur-generaal, Thabo Kekana, het aan die Parlement gesê die huidige befondsing- en leweringsmodelle onder die Geïntegreerde Nasionale Elektrifiseringsprogram is nie voldoende nie. Die departement beplan om saam met die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika te werk en hibriede netwerk- en mikronetwerkmodelle te ondersoek om landelike en afgeleë gemeenskappe van krag te voorsien.
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê voorbereidings vir die plaaslike verkiesing in 2026 sal fokus om verlore aansien in die Wes-Kaap en Gauteng te herwin. Die Nasionale Uitvoerende Komitee het ‘n provinsiale trustee aangestel om ANC-strukture te herbou en te stabiliseer na ‘n nege-persent afname in steun in die Wes-Kaap. Hy het bevestig die voormalige premier van die Wes-Kaap, Ibrahim Rasool, sal die sameroeper wees:
# Die Parys-aanklaer se kantoor sê die twee verdagtes wat gearresteer is in verband met die diefstal van kroonjuwele uit die Louvre se Apollo-galery, het erken dat hulle by die rooftog betrokke was. Agt kosbare skatte met ʼn geraamde waarde van 1,2-miljard-rand is twee weke gelede helderoordag uit die wêreld se gewildste museum gesteel deur vier diewe met kraggereedskap. Parys se aanklaer, Laure Beccuau, sê die juwele is nog nie teruggevind nie, en die bende wat betrokke was, is moontlik groter as die vier wat op kringtelevisie te sien is.
# Krieket: Kaptein Laura Wolvaardt het ‘n meesterklas in kolfwerk aangebied toe Suid-Afrika Engeland met 125 lopies in Guwahati geklop het om hul eerste eendag-eindstryd in die Vroue-wêreldbeker te haal. Wolvaardt het 169 lopies gemoker, die hoogste telling ooit van ‘n Suid-Afrikaner by ‘n Wêreldbeker, sodat die Proteas ‘n indrukwekkende 319 vir sewe lopies kon aanteken. In antwoord het Marizanne Kapp vyf paaltjies geneem toe Engeland vir 194 uitgeboul is. Suid-Afrika sal teen Australië of Indië in Sondag se eindstryd te staan kom. Wolvaardt sê vennootskappe was die sleutel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-94-sent teen die euro en 22-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-620-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-951-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….