Nuus 07:00
BULLETIN 23 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa beplan om die bilaterale betrekkinge met Viëtnam te versterk
# Die DA sê die uitspraak oor Zuma se regskoste is ‘n oorwinning vir die belastingbetaler
# En die VF Plus verwelkom die ontbinding van die misdaadvoorkomingsbewaarders
# President Cyril Ramaphosa is vandag en môre in Hanoi, Viëtnam, as deel van sy besoek aan drie nasies in Suidoos-Asië. Die Presidensie sê Ramaphosa se staatsbesoek aan Viëtnam weerspieël die dieper bande tussen die leiers van Suid-Afrika en Viëtnam, wat berus op wedersydse respek en toenemende samewerking. Hy sê die besoek val saam met verskeie betekenisvolle verwikkelings in Viëtnam se politieke landskap, insluitend ‘n oorgang in leierskap, die afsluiting van belangrike plaaslike beplanning en die land se toenemende aansien in ekonomiese kwessies in die streek en die wêreld.
# Die DA sê die uitspraak teen Jacob Zuma oor sy regskoste wat deur die staat betaal word, is ʼn oorwinning vir Suid-Afrika en die beskerming van belastingbetalersgeld. Die Hooggeregshof in Pretoria het die oudpresident opdrag gegee om 28,9-miljoen-rand aan regskoste te betaal wat onregmatig deur die staat befonds is. Zuma moet die skuld binne 60 dae vereffen. Willie Aucamp van die DA sê die publiek moet ingelig bly oor die vordering om die fondse te herwin:
# Die Departement van Staatsdiens en Administrasie en sy instellings is gewaarsku om pogings te verskerp om ʼn professionele, etiese en aanspreeklike staatsdiens te bou. Die parlementêre portefeuljekomitee oor Staatsdiens en Administrasie het die Begrotingshersiening- en Aanbevelingsverslag vir 2024/2025 aanvaar. Die komitee verklaar in die verslag dat ten spyte van aansienlike beleid- en wetgewende hervormings wat die afgelope jare ingestel is, verswak onetiese gedrag en korrupsie steeds openbare vertroue in staatsinstellings. Die komitee sê om ʼn etiese staat te bou, moet die staatsdiens professioneel gemaak word.
# Die Vryheidsfront Plus sê die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, se Amapanyaza-projek was van meet af ‘n mislukking. Die party verwelkom die provinsiale regering se besluit om die misdaadvoorkomings-eenheid te ontbind en noem dit ‘n erkenning dat dit onwettig en ondoeltreffend was. Jaco Mulder van die VF Plus sê die program het belastingbetalers miljoene-rand gekos terwyl die lede polisietake verrig en sodoende die skeiding van magte geskend het:
# Die Internasionale Geregshof sê Israel het ʼn verpligting om seker te maak daar word voldoen aan burgerlikes in Gaza se behoeftes. Dié hof het in ʼn raadgewende mening verklaar die Verenigde Nasies se agentskap vir Palestynse vlugtelinge het nie reëls oor onpartydigheid oortree nie en Israel moet die agentskap se hulppogings ondersteun. Regter Iwasawa Yuji het Woensdag die nie-afdwingbare uitspraak gelewer en sê Israel kan nie verhongering as wapen gebruik nie:
# Motorsport: Nege voltydse renjaers sal die eerste oefening vir die naweek se Formule Een Grand Prix in Mexikostad misloop as deel van die verbintenis om nuwelinge minstens twee oefen-geleenthede per seisoen te gee. Hulle sluit in die huidige wêreldkampioen, Max Verstappen van Red Bull, Lando Norris van McLaren en Lewis Hamilton van Ferrari. Die voorloper in die kampioenskap, die Australiër Oscar Piastri van McLaren, sal wel oefenrondes aflê, wat beteken dat hy waarskynlik in Desember die eerste oefening van die laaste wedren in Abu Dhabi sal misloop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-42-sent teen die dollar, 20-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-195-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-90-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….