Nuus 07:00
BULLETIN 22 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê die regering sal nie teenoor die VSA toegewings maak oor binnelandse beleid nie
# Fitch verwag dat die Nasionale Tesourie ‘n inflasieteiken van drie-present sal stel in November
# En krieket: Die Protea-vroue skop Pakistan uit die Wêreldbeker
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê handelsgesprekke met Amerika vorder goed. Dis egter onwaarskynlik dat die regering toegewings oor plaaslike beleid sal maak as deel van die onderhandelinge. Amerika het in Augustus tariewe van 30-persent op Suid-Afrikaanse uitvoere na dié land gehef wat duisende werksgeleenthede in die voertuig- en sitrusbedryf in gevaarstel. Lamola het gister by die Financial Times se Afrika-beraad in Londen beklemtoon dat Amerika ‘n strategiese vennoot in die land se ekonomie bly:
# Fitch Ratings sê hy verwag die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sal Suid-Afrika se inflasieteiken in volgende maand se mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring amptelik tot drie-persent verlaag. Die land se huidige inflasiekoers is tussen drie- en ses-persent. Die Reserwebank se president, Lesetja Kganyago, het in Julie gesê monetêre beleidmakers verkies nou om inflasie op die laagste amptelike teiken vas te stel. Fitch-woordvoerder Thomas Garreau sê hulle hoop die Reserwebank sal ʼn toelating maak vir inflasie en nie rentekoerse verhoog nie.
# Die Hillel Villa and Spa in Northcliff, Johannesburg, ontken dat hulle perseel gebruik is vir onwettige doeleindes soos voor die Madlanga-kommissie van ondersoek beweer is. Dit volg nadat Getuie A beweer het hy was by ‘n partytjie by die Northcliff-hotel waar senior polisie-offisiere teenwoordig was. Die bestuur het in ‘n verklaring bevestig dat die hotel die geleentheid aangebied het maar ontken enige kriminele aktiwiteite of pogings om ondersoeke te beïnvloed. Die hotel het sy eienaarskap opgeklaar en homself van enige wangedrag gedistansieer.
# Die Gauteng-wetgewer se portefeulje-komitee vir Gemeenskapsveiligheid vra dringende optrede na ‘n massaskietvoorval in Westbury, Sophiatown, waarin twee tieners dood en vyf ander beseer is. Die komitee sê onwettige vuurwapens wakker bendegeweld aan en doen ‘n beroep op die polisie om gespesialiseerde eenhede na die gebied te stuur. Die voorsitter van die komitee, Bandile Masuku, doen ‘n beroep vir beter verslagdoening oor vuurwapenmisdaad en langtermynbelegging in jeugprogramme en maatskaplike dienste om die gemeenskap veiliger te maak:
# Amerika se visepresident JD Vance is positief oor die Israel-Hamas-skietstilstand en sê dis op ʼn baie goeie plek. Hy is op besoek aan Israel om die brose skietstilstandooreenkoms te ondersteun. Die skietstilstand wankel onder herhaalde skendings sedert dit op 10 Oktober tot stand gekom het. Hamas het sedertdien twee Israelse soldate doodgeskiet en Israel het wraak geneem met lugaanvalle waarin 26 Palestyne Sondag in Gaza dood is. Vance glo die skietstilstand sal hou:
# Krieket: Suid-Afrika het Pakistan in Colombo volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode met 150 lopies verslaan om boaan die Vroue-wêreldbeker se punteleer te eindig. Kaptein Laura Wolvaardt het 90 van 82 balle behaal en die Proteas het in 40 boulbeurte 312 vir nege aangeteken voor reën hul beurt in die wiele gery het. Dis Suid-Afrika se hoogste totaal in Wêreldbeker-geskiedenis. Pakistan is tot 83 vir sewe beperk terwyl hulle mikpunt ʼn verlaagde 234 in 20 boulbeurte was. Die Proteas het reeds vir die halfeindronde gekwalifiseer terwyl Pakistan uit die toernooi is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-40-sent teen die dollar, 20-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-252-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-90-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….