Nuus 07:00
BULLETIN 19 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA, EFF en ActionSA reageer op die 2023-matriekslaagsyfer
# ‘n Koördineerder van die Wêreldgesondheidsorganisasie waarsku Gaza-hospitale gaan vinnig agteruit
# En krieket, Will Jacks dra Pretoria Capitals na hulle eerste oorwinning in die huidige SA20-seisoen
# Die DA sê hy betwis die Departement van Basiese Onderwys se 2023-matriekslaagsyfer van 82,9-persent omdat die ware syfer slegs 55,3-persent is. Baxolile Nodada van die party sê die ware syfer word bereken deur die getal leerders wat uitgeval en nooit matriek gehaal het nie, ook in berekening te bring. Hy sê alhoewel sommige leerders ná graad nege hulle matriek deur tegniese en beroepsgerigte onderwys en opleiding behaal het, het ‘n groot aantal ophou skoolgaan:
Die EFF het 2023 se verbeterde matriekslaagsyfer verwelkom en sê dis ʼn keerpunt vir baie leerders reg oor die land. Die 82,9-persent van die 2023-matriekklas is die hoogste slaagsyfer in Suid-Afrika se geskiedenis met ʼn styging van 2,8-persent teenoor dié van 2022. Alle provinsies se slaagsyfer is bo 75-persent met die Vrystaat wat op 89-persent die beste gevaar het. Die EFF sê die matriekklas het toewyding en veerkragtigheid getoon ten spyte van uitdagings soos beurtkrag en oorvol klaskamers.
ActionSA sê intussen hy bly bekommerd dat die land se skoolstelsel nie die jeug voldoende voorberei nie. Die party se nasionale woordvoerder, Lerato Ngobeni, sê geleenthede ná matriek is skaars en daar is nie genoeg geld vir tersiêre onderwys nie:
# ‘n Wêreldgesondheidsorganisasie-koördineerder, Sean Casey, sê die toestand in Gaza se oorblywende hospitale is onrusbarend en pasiënte wag om te sterf weens ernstige tekorte aan personeel en voorrade. Casey sê die gesondheidstelsel gaan vinnig agteruit te midde van toenemende humanitêre hulp, maar dalende toegang, veral in die noorde, met pasiënte wat in hospitale sonder brandstof, krag en water moet wag. Die Nasser mediese kompleks in die suide werk met slegs 30-persent van die personeel maar dubbeld die gewone aantal beddens. Meer as 24-duisend Palestyne is reeds dood. Casey vra ‘n dringende wapenstilstand in Gaza om die verergerende humanitêre ramp te stuit.
# Krieket: Will Jacks van Engeland het ʼn uitstekende vertoning gelewer en die Pretoria Capitals na hulle eerste sege in vanjaar se SA20-seisoen gelei met ʼn oorwinning van 17 lopies teen Durban’s Super Giants in Centurion. Jacks het 101 van 42 balle en die derde honderdtal van hierdie seisoen gemoker, wat die Capitals se totaal op 204 vir nege gebring het. Daarna het Jacks, Hardus Viljoen en Wayne Parnell elkeen twee paaltjies platgetrek om die Super Giants tot 187 vir sewe te beperk. Colin Ingram van die Pretoria Capitals sê dis wonderlik om hulle eerste oorwinning te behaal:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 24-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 41-duisend-87-dollar-48-sent. Die prys van goud is twee-duisend-24-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-82-sent per vat.
# En om mee af te sluit, die ontslape oudpresident Nelson Mandela se dogter, Makaziwe Mandela, gaan volgende maand sy identiteitsboekie en 69 ander items laat opveil ná ʼn regstryd van twee jaar teen die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Erfenisbronne. Makaziwe het geseëvier nadat die agentskap die verkope wou stopsit, omdat hulle die items as erfenisvoorwerpe beskou. Die afslaer van Guernsey Auction House in New York sal 100 items aanbied en die opbrengs sal aangewend word vir ʼn tuin van herinnering by Mandela se grafsteen in Qunu in die Oos-Kaap. Die veiling sluit in Mandela se briewe uit die tronk, ʼn kierie, Madiba-hemde en geskenke.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….