Nuus 07:00
BULLETIN 21 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC kritiseer die DA se pogings om swart ekonomiese bemagtiging te skrap
# Lede van die Parlement se ad hoc-komitee gaan vandag minister Mchunu ondervra
# En Donald Trump dreig om Hamas uit te roei as hulle nie die skietstilstandooreenkoms nakom nie
# Die ANC sê die beleid oor breed-gebaseerde swart ekonomiese bemagtiging sal nie geskrap word nie. Dit volg terwyl die DA beplan om ‘n Wetsontwerp op Ekonomiese Insluiting vir Almal in te stel om SEB-wetgewing te vervang. Die party sê die wetsontwerp beoog om ʼn verkrygingstelsel te skep wat ware ekonomiese bemagtiging aanmoedig deur aansporings te bied vir tasbare ontwikkelingsuitkomste. ʼn ANC-woordvoerder, Mahlengi Bhengu, sê die idee dat die DA in die toekoms ʼn Suid-Afrika sonder hervormingswette sien, moet uitgedaag word:
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu wat tans op spesiale verlof is, sal vandag vrae van die parlementêre ad hoc-komitee beantwoord. Die komitee ondersoek misdadigheid, politieke inmenging en korrupsie in die strafregstelsel. Die minister het verlede week voor die komitee getuig sy besluit om ʼn bevel uit te vaardig om die taakspan oor politieke moorde in KwaZulu-Natal te ontbind, is deeglik oorweeg en nie deur misdadige motiewe gedryf nie. Die voormalige minister van Polisie, Bheki Cele, is die volgende getuie wat voor die komitee verskyn.
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta het matrieks gevra om eerlikheid en integriteit te handhaaf tydens die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen wat vandag begin. Makaneta het die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, geprys oor haar leiding met die belofte om etiese gedrag in skole te bevorder. Hy het leerders aangemoedig om gefokus en selfversekerd te bly, sodat hulle uitslae hul harde werk en toewyding weerspieël:
# ‘n WaterCAN-aktivis, Ferrial Adam, sê watertenkwaens moet ‘n korttermynoplossing bly aangesien groot dele van Gauteng steeds worstel met ‘n waterskaarste, gebrekkige infrastruktuur en oordadige tenkwakoste. Adam het tydens ‘n onderhoud met SABC News die wanbestuur gekritiseer en sê miljoene is bestee maar min verbeterings is aangebring. Sy waarsku teen watermafia en versoek dat munisipaliteite aanspreeklik gehou moet word. Sy beklemtoon die burgerlike samelewing moet langtermynafhanklikheid van tenkwaens voorkom voor die plaaslike regeringsverkiesing in 2026:
# President Donald Trump van Amerika het Hamas gewaarsku hy sal vernietig word tensy hy die bepalings van die skietstilstandooreenkoms met Israel nakom. Dit volg nadat Israel Sondag ʼn reeks lugaanvalle in Gaza uitgevoer het nadat hy Hamas beskuldig het van ʼn aanval waarin twee Israelse soldate dood is. Minstens 44 mense in Gaza is volgens berigte in die Israelse aanvalle dood. Trump sê Hamas moet hom gedra of die gevolge dra:
# Rugby: Die Ierse vleuel Mack Hansen moes onttrek aan die span vir volgende maand se toets teen Nieu-Seeland in Chicago nadat hy ‘n voetbesering vererger het. Die Britse en Ierse Leeus-speler is van die veld tydens Connacht se nederlaag van 28-27 teen die Bulle in die Verenigde Rugbykampioenskap. Die nuweling-senter Tom Farrell en Jimmy O’Brien van Leinster is by die groep gevoeg, met Edwin Edogbo en Brian Gleeson van Munster wat ook beseer is. Bundee Aki en Robbie Henshaw word steeds waargeneem en sal na Amerika reis.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-20-sent teen die dollar, 20-rand-4-sent teen die euro en 23-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-289-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-350-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….