Nuus 07:00
BULLETIN 13 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau sê ‘n handelsooreenkoms met die VSA is binne bereik
# AfriForum vra die Khampepe-kommissie om politieke inmenging tydens apartheid te ondersoek
# En Israel sê hy is vandag gereed om die gyselaars wat in Gaza aangehou word, te ontvang
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê Suid-Afrika is op die rand van ‘n handelsooreenkoms met Amerika, maar ʼn paar belangrike kwessies moet nog bespreek word. President Donald Trump het in Augustus tariewe van 30-persent ingestel op Suid-Afrikaanse uitvoere na Amerika. Tau het verlede maand met die Amerikaanse handelsverteenwoordiger, Jamieson Greer, in Washington beraadslaag. Die minister het erken dat hulle steeds kwessies soos swart ekonomiese bemagtiging en Trump se bewering van volksmoord op witmense bespreek, maar sê hulle is besig om vordering te maak.
# AfriForum het ‘n formele voorlegging by die Khampepe-kommissie van ondersoek ingedien vir ‘n ondersoek na politieke inmenging wat verhoed het dat ANC-leiers vervolg word vir terreuraanvalle tydens apartheid. AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, sê die Khampepe-kommissie is gestig na druk deur veral die families van die Cradock-4 om antwoorde te kry vir die redes vir die vertraging van die ondersoek en vervolging van misdade wat deur die WVK geïdentifiseer is:
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, sê die departement het begin met ‘n omvattende plan vir die verbetering van interne beheer ten einde data-integriteit en prestasiemonitering te versterk. Hy sê die Ouditeur-Generaal het gewaarsku teen die verwydering van sleutelprestasie-aanwysers wat strategiese impak bepaal, en het bevind die departement het nie voldoende interne beheermaatreëls in plek om die integriteit van gerapporteerde prestasies te beskerm nie. Manamela sê ‘n departement wat optimaal funksioneer is noodsaaklik vir ‘n bedryf van ‘n naskoolse onderwys- en opleidingstelsel:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Korrektiewe Dienste sê tronke moenie sentrums vir verdere onwettigheid wees nie. Die komitee het verlede week oorsigbesoeke gebring aan gevangenisse in die Oos- en Wes-Kaap. Die Departement van Korrektiewe Dienste is toenemend onder druk om toe te slaan op items wat onwettig in tronke gebruik word, en verbind word met geweld, afpersing en georganiseerde misdaadnetwerke wat van agter tralies bedryf word. Die komiteevoorsitter, Kgomotso Ramolobeng, sê tronke moet oortreders bemagtig en nuwe vaardighede aanleer.
# Israel se regering sê hy verwag dat al 20 lewende gyselaars wat in Gaza deur Hamas aangehou word, vanoggend aan die Rooikruis oorhandig sal word. Dis deel van die eerste fase van die vredesooreenkoms waarop verlede week ooreengekom is. Hamas hou 48 mense gyselaar, waarvan 20 vermoedelik nog lewe. Israel sal byna twee-duisend Palestynse gevangenes vrylaat. Die Israelse regering se woordvoerder, Shosh Bedrosian, sê hulle is ook gereed om die liggame van die oorlede gyselaars te ontvang:
# Tennis: Nommer 204 in die wêreld, Valentin Vacherot, het sy neef, Arthur Rinderknech, verslaan en die Sjanghai Meesters, sy eerste ATP-toertitel, opgeraap. Die 26-jarige van Monaco was ʼn stel agter, maar het teruggeveg om die laagste gekeurde ATP Meesters 1000-kampioen in die geskiedenis te word. Die tweemalige Grand Slam-kampioen, Coco Gauff, het haar Amerikaanse landgenoot, Jessica Pegula verslaan om die Wuhan Ope in China te wen. Dis Gauff se 11de WTA-enkelspeltitel en haar tweede vanjaar ná haar sege in die Franse Ope.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand-16-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-834-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-55-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….