Nuus 07:00
BULLETIN 10 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê dit sou onbehoorlik wees vir die ANC om oor Mthethwa se dood te spekuleer
# Die VN-hoof sê die Gaza-vredesplan is die begin van die einde van die verwoestende oorlog
# En die Prinses van Wallis waarsku te veel skermtyd skaad die gesinslewe
# Die ANC-sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die party sal nie enige bespiegeling oor die dood van die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Frankryk, Nathi Mthethwa, duld nie. Die 58-jarige is oorlede nadat hy verlede week van die 22ste verdieping van die Hyatt Hotel in Parys geval het. Mbalula het Donderdag buite Mthethwa se huis in KwaMbonambi, noordelike KwaZulu-Natal, gepraat en gesê hulle ondersteun die regering se besluit om ‘n span na Frankryk te stuur om die omstandighede rondom die dood van Mthethwa vas te stel:
# Alan Beesley van ActionSA verwelkom die bevestiging dat die Openbare Beskermer die Presidensie, Nasionale Tesourie, en rekenpligtige beamptes gaan ondersoek omdat hulle versuim het om op die Spesiale Ondersoekeenheid se korrupsieverwysings te reageer. Dit volg na ActionSA se klagte dat slegs een van die 467 ge-oormerkte verskaffers op die swartlys geplaas is. Beesley sê dit is ‘n groot stap na aanspreeklikheid, en sê as die regering nie optree nie, moet onafhanklike instellings intree en gevolgebestuur afdwing.
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het ‘n dringende interdik deur CODETA teen die sluiting van sekere taxiroetes en -staanplekke in die provinsie van die hand gewys. ‘n 30-dae lange sluiting van taxiroetes tussen Mfuleni, Khayelitsha en Somerset-Wes is van 17 September afgedwing na taxi-verwante skietvoorvalle. Die LUR vir Provinsiale Mobiliteit, Isaac Sileku, sê die hof het bevind dat die departement binne sy wetlike mandaat opgetree het om pendelaarsveiligheid te verseker en orde te herstel:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, het ‘n beroep op Israel en Hamas gedoen om ten volle by die wapenstilstand- en gyselaarsvrystellingsooreenkoms te hou. Die partye het Woensdag ingestem tot die eerste fase van ‘n wapenstilstandsplan wat deur die VSA bemiddel is en wat die vrylating van alle gyselaars in Gaza, die Israelse onttrekking tot ‘n ooreengekome punt en die vrylating van sommige Palestynse gevangenes sal toelaat. Guterres sê ‘n permanente wapenstilstand moet verseker word en die bloedvergieting moet eens en vir altyd stop:
# Rugby: Twee Springbok-agterlynhelde is in die Stormers se span vir Saterdag ingesluit. Sacha Feinberg-Mngomezulu en Damian Willemse is terug op internasionale diens en in die opdrafspan teen die Scarlets in Llanelli, Wallis, in hulle Verenigde Rugbykampioenskapwedstryd. Die span van die Wes-Kaap het hierdie seisoen se veldtog op ‘n hoë noot afgeskop in hulle eerste twee wedstryde met oorwinnings teen die verdedigende kampioen, Leinster, en die Ospreys. ‘n Verdere Springbok, skrumskakel, Cobus Reinach, sal nie vandag speel nie, aangesien hy in die buite-seisoen van Montpellier af by die Stormers aangesluit het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 22-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-665-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-977-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-98-sent per vat.
# En om af te sluit: Die Prinses van Wallis waarsku dat te veel tyd op slimfone en voor rekenaarskerms ‘n “epidemie van ontkoppeling” skep wat die gesinslewe ontwrig. In ‘n essay wat op die webwerf van die Royal Foundation Centre for Early Childhood gepubliseer is, sê Catherine kinders moet aangemoedig word om sosiale en emosionele vaardighede te ontwikkel wat hulle regdeur hulle lewens sal help. Catherine sê slimfone en ander toestelle is ‘n aanhoudende afleiding en ondermyn die tyd wat gesinne saam deurbring. Haar man, Prins William, het onlangs gesê nie een van hul drie kinders mag slimfone hê nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….