Nuus 07:00
BULLETIN 16 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vra dat die Spesiale Ondersoekeenheid leefstyloudits uitvoer
# Die Nasionale Vervolgingsgesag mag teen die vryskelding van Timothy Omotoso appelleer
# En rugby: Aimee Barrett-Theron tree uit in haar stryd teen kanker
# Die DA vra president Cyril Ramaphosa om dringend ‘n proklamasie uit te vaardig wat die Spesiale Ondersoekeenheid toestemming gee om saam met die Staatsveiligheidsagentskap verpligte leefstyloudits uit te voer, veral in wetstoepassing en die strafregstelsel. Die Madlanga-kommissie het gehoor slegs vyf uit 823 senior leiers in die Suid-Afrikaanse Polisiediens het die afgelope vyf jaar leefstyloudits ondergaan. Lisa Schickerling van die DA sê die ondersoekeenheid moet die bevindings van leefstyloudits verifieer, onverklaarde rykdom ondersoek en sake vir vervolging verwys:
# Die Appèlhof het verlof toegestaan aan die Nasionale Vervolgingsgesag om teen die ontslag van die Nigeriese televangelis Timothy Omotoso en sy twee medebeskuldigdes te appelleer. Die appèl sal probeer om die beslissing van die Hooggeregshof in Gqeberha, in die Oos-Kaap, om te keer om Omotoso, Lusanda Sulani en Zukiswa Sitho, vry te spreek op 32 aanklagte, insluitend verkragting, mensehandel en afpersing. Kaizer Kganyago van die NVG sê hulle verwelkom die uitspraak:
# Die bedryfsorganisasies, AgriSA en Business Against Crime South Africa het ‘n memorandum van ooreenkoms onderteken om plattelandse misdaad- en veiligheidsdata te verbeter. Die vennootskap sal BACSA se E2-Plus-platform gebruik om misdaadinligting in te samel, te bevestig en te analiseer, en wetstoepassing en beleidmakers te ondersteun. AgriSA sê beter bewyse is noodsaaklik om voedselsekerheid, plattelandse ekonomieë en gemeenskappe te beskerm. Die organisasies sal ook met die Suid-Afrikaanse Polisiediens, die Valke en ander belanghebbendes saamwerk om gekoördineerde optrede wat plattelandse misdaad betref, te versterk.
# KwaZulu-Natal se premier, Thamsanqa Ntuli, sê sy regering neem die hele samelewing in ag wanneer hulle vertroue wil herstel, dienslewering versnel en nuwe hoop skep. Hy noem uitdagings soos voortslepende ekonomiese probleme, klimaat-verwante rampe en die gevolge van die onluste in Julie 2021. Ntuli sê die provinsie toon tekens van ekonomiese herstel, met onder meer ʼn belofte van 89-miljard-rand se beleggings in 2024, wat verlede jaar tot 101-miljard-rand verhoog is. Hy sê daar was ook verbetering wat openbare veiligheid betref, en moord, seksuele oortredings en roof met verswarende omstandighede het afgeneem.
# Die uittredende Britse eerste minister, Keir Starmer, sê hy is trots op alles wat hy gedurende sy tweejaar-termyn vermag het. Hy het gister die laaste keer vrae van wetgewers in die Laerhuis beantwoord. Starmer sal na verwagting Maandag die leisels aan Andy Burnham oorhandig nadat die burgemeester van Groter-Manchester Vrydag tydens ʼn spesiale konferensie as leier van die Arbeidersparty ingehuldig word. Starmer sê hy laat die land in ʼn beter toestand as waarin hy dit gevind het:
# Rugby: Die toets-skeidsregter met ʼn rekordgetal wedstryde op haar kerfstok, Aimee Barrett-Theron, het uitgetree nadat sy met borskanker gediagnoseer is. Die 39-jarige Suid-Afrikaner is die mees ervare vroue-skeidsregter in rugby wat tot op hede in 52 toetswedstryde geblaas het. Sy was verlede maand skeidsregter in die wedstryd tussen Suid-Afrika ‘A’ en Zimbabwe in Gqeberha. Barrett-Theron sê sy is vasbeslote om ná haar behandeling en herstel as ʼn sterker persoon na die veld terug te keer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 22-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-596-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-42-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….