Nuus 07:00
BULLETIN 9 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika probeer om handel met Ierland te versterk
# Mandla Mandela sê hulle is mishandel in Israelse aanhouding
# En die DA beskuldig Panyaza Lesufi dat hy die Tembisa-hospitaalverslag vir politieke gewin uitbuit
# President Cyril Ramaphosa sê deur die Gesamentlike Kommissie vir Samewerking tussen Suid-Afrika en Ierland het die twee nasies hartlike betrekkinge gehandhaaf wat gewortel is in wedersydse respek, gedeelde waardes en ‘n gemeenskaplike verbintenis tot multilateralisme. Suid-Afrika is Ierland se grootste handelsvennoot in Afrika, met invoere wat wissel van vliegtuie tot dataverwerkingsmasjinerie tot farmaseutiese produkte. Ramaphosa het tydens sy staatsbesoek aan Ierland Woensdag die sterk kulturele bande en beleggingsvloei tussen die twee nasies benadruk:
# Nelson Mandela se kleinseun, Mandla Mandela, het die swak behandeling deur Israelse soldate beskryf nadat die Israelse Vloot hulle bote onderskep het. Hy sê hulle is kos geweier, geboei, geparadeer en hardhandig hanteer toe hulle in Asjdod aangekom het. Mandela sê Israelse owerhede het ook die 22-jarige Sweedse aktivis Greta Thunberg geteister. Hy beskryf die ondervinding as ‘n bewys daar sal nooit geregtigheid wees op gesteelde grondgebied nie:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Staatsdiens en Administrasie het die voorlopige skorsing van die hoofbeleggingsbeampte van die Openbare Beleggingskorporasie, Kabelo Rikhotso, verwelkom. Sy skorsing volg op bewerings van wangedrag teen hom in ‘n fluitjieblasersverslag. Die komitee het die OBK aangemoedig om te verseker dat die ondersoek met volle onafhanklikheid, noukeurigheid en deursigtigheid uitgevoer word. Dit het die OBK ook aangespoor om voort te gaan met die versterking van sy interne beheermaatreëls, risikobestuursraamwerke en fluitjieblaserbeskermingsmeganismes, om te verseker dat aanspreeklikheid sistemies eerder as reaktief word.
# Die DA in Gauteng het premier Panyaza Lesufi en sy ANC-bondgenote daarvan beskuldig dat hulle die verslag van die Spesiale Ondersoekeenheid oor die Tembisa-hospitaal vir goedkoop politieke gewin uitbuit. Die SOE-ondersoek het drie gekoördineerde sindikate ontbloot wat verantwoordelik is vir die plundering van meer as twee-miljard-rand wat vir gesondheidsorg bedoel was. Die DA se provinsiale leier, Solly Msimanga, sê Lesufi se regering se reaksie op die verdoemende bevindinge was om ‘n gebedsdiens aan te bied. Hy sê die hospitaal is waar die ANC se eie kaders gehelp het om te plunder, te steel, en waar fluitjieblasers geteiken en vermoor is.
# Mining Affected Communities United in Action het ‘n aanvullende verklaring by die Menseregtekommissie ingedien na Dag 3 van die Stilfontein-ondersoek. MACUA sê die dood van 93 mynwerkers het die staat se minagting vir aanspreeklikheid blootgelê. Die organisasie het afwesige ministers, die Departement van Minerale Hulpbronne se versuim om aanbevelings te implementeer, en die Mineraleraad se rol in polisie-operasies gekritiseer. MACUA vra vir ministeriële dagvaardings en ‘n kriminele ondersoek na die mynwerkers se dood.
# Gholf: Die Amerikaanse gholfspeler, Collin Morikawa, ontken dat sy opmerkings voor verlede maand se Ryderbeker-toernooi die toeskouers se opruiende gedrag by Bethpage in New York veroorsaak het. Hy het die tuisskare aangemoedig om harder te kere te gaan. Europese spelers is meedoënloos uitgejou terwyl selfs bier na Rory McIlroy se vrou, Erica, gegooi is. Morikawa sê sy kommentaar is ietwat buite verband gehaal en hy het nie bedoel dat toeskouers onbeskof moet wees nie. Europa het die kompetisie gewen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 22-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 122-duisend-706-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-27-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….