Nuus 07:00
BULLETIN 8 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die chaos by die ad hoc-komitee doen die Parlement se geloofwaardigheid skade
# Donald Trump sê ‘n vredesooreenkoms in Gaza is baie naby
# En rugby: Suid-Afrika sal spelers skors wat by die R360-wegbreekkompetisie aansluit
# Die DA sê die wanbestuur van die Parlementêre Ad Hoc-komitee wat polisiekorrupsie ondersoek, ondermyn nie net sy mandaat nie, maar ook die openbare vertroue in die Parlement as ‘n instelling. Die komitee het gister met sy werk begin, maar is belemmer deur vertragings en administratiewe verwarring. Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, sal vandag sy getuienis voortsit. Ian Cameron van die DA sê hulle ondersteun nie oproepe vir die verwydering van die getuienisleier, advokaat Norman Arendse nie:
# Die Departemente van Basiese Onderwys, en Indiensneming en Arbeid, asook die Nywerheids-ontwikkelingskorporasie sal vandag ‘n resolusie aankondig oor uitstaande betalings aan Onderwysassistente en Algemene Skoolassistente onder die Basiese Onderwys-werkprogram in Pretoria. Die woordvoerder, Terence Khala, sê die regering het ‘n manier gevind om die uitstaande toelaes vry te stel. Hy sê die stap sal na verwagting verligting besorg aan assistente wat vir hul geld wag:
# Die NUM, wat 15-duisend Eskom-werknemers verteenwoordig, eis in die aanloop tot die komende salarisonderhandelings, ‘n loonverhoging van tot 15-persent, meer as vier keer meer as die inflasiekoers. Dit volg ná Eskom se eerste wins in agt jaar en die stabilisering van die kragnetwerk. NUM is gekant teen Eskom se plan om vakbond-erkenning oor ontbondelde entiteite te desentraliseer en waarsku dit kan gesamentlike bedinging verswak. Die huidige loonooreenkomste verstryk in Junie 2026.
# City Power het bevestig die Hooggeregshof in Johannesburg het die dringende saak teen die Valke uitgestel oor die beweerde onregmatige uitvoering van ’n deursoekings-lasbrief wat op 17 September uitgereik is. Die saak, wat oorspronklik vir vandag beplan is, sal nou Vrydag aangehoor word nadat die Valke meer tyd gevra het om hul beëdigde verklaring in te dien. City Power sê die vertraging is kommerwekkend en hy versoek ‘n interdik om wettige en billike ondersoekprosedures te verseker.
# Die Amerikaanse president Donald Trump sê hy is optimisties oor die vordering wat gemaak is met ‘n vredesooreenkoms in Gaza. Onderhandelinge om ‘n ooreenkoms gebaseer op Trump se wapenstilstandsplan in Gaza te finaliseer, duur voort in Egipte. Die Amerikaanse spesiale gesant Steve Witkoff en senior adviseur Jared Kushner sal na verwagting vandag by die onderhandelinge aansluit om te help met die logistieke besonderhede rondom ‘n wapenstilstand en gyselaarsvrylating. Trump het by die Withuis gesê hy glo ‘n ooreenkoms is baie naby:
# Rugby: Nasionale rugbyunies van Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Engeland, Ierland, Frankryk, Skotland, Italië en Australië het gewaarsku dat enige spelers wat by die wegbreek-R360-kompetisie aansluit, verbied sal word om vir hul lande te speel. R360 beplan om ‘n verkorte kompetisie in Oktober 2026 te loods, met spelers wat na bewering winsgewende kontrakte aangebied word om die oorskakeling te maak. Die nasionale rugbyunies sê R360 het geen aanduiding gegee van hoe hulle beplan om spelerwelstand te bestuur nie, en hoe die kompetisie by die internasionale en plaaslike kalenders sal inpas nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-22-sent teen die dollar, 20-rand-5-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-719-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-988-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….