Nuus 07:00
BULLETIN 17 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Finansies sê daar is geen plan om ‘n noodfonds van 497-miljard-rand te gebruik nie
# Outa sê die SABC-wetsontwerp het onsuksesvol probeer om befondsingskwessies te hanteer
# En sokker, Bafana Bafana verloor sy eerste Afcon-wedstryd teen Mali
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, Suid-Afrika het geen voorneme om ‘n noodfonds van 497-miljard-rand te gebruik nie. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank hou namens die Nasionale Tesourie toesig oor die gebeurlikheids-reserwerekening vir goud en buitelandse valuta. Die geld kan help om skuld-terugbetalingskoste of ʼn enorme staatsloonrekening te dek. Godongwana het by die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos, Switserland, aan Bloomberg Television gesê baie dinge moet in ag geneem word voordat die fonds gebruik kan word:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê die vertraging van drie jaar in die ontwikkeling van ʼn befondsingsmodel soos in die SABC-wetsontwerp voorgestel word, kan die openbare uitsaaier in ʼn moeiliker finansiële posisie plaas. Die SABC het in die 2022/2023-boekjaar ʼn verlies van 1,2-miljard-rand getoon. Die wetsontwerp is tans oop vir openbare kommentaar. Outa se woordvoerder, Stefanie Fick, sê die SABC het in die tussentyd finansiële sekerheid nodig, maar die wetsontwerp bied dit nie:
# Solidariteit het die Gautengse Onderwysdepartement se swak beplanning veroordeel wat gelei het tot probleme met die plasing van leerders aan die begin van die akademiese jaar. Die vakbond het sy kommer uitgespreek oor die moontlike uitwerking wat die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys op die bestuur van skole kan hê. Anlia Archer van Solidariteit vermoed die departement se aanlyn plasingstelsel beïnvloed taaldemografie in Afrikaanse skole om dit in ooreenstemming met die BELA-wetgewing te bring. Sy moedig ouers en skoolgemeenskappe aan om staatsbeheer in onderwys teen te staan.
# Action Society het aangesluit by oproep vir tugstappe teen die Paarl-polisie se stasiebevelvoerder, Nokuthala Pete, sodat sy afgedank kan word. Sy het Desember verlede jaar op Facebook gesê sy glo die Suid-Afrikaanse Polisiediens in die Paarl is te wit en het iemand aangemoedig om ʼn oorplasing na die Wes-Kaap te vra en belowe om dit goed te keur. Ian Cameron van Action Society sê die land het ʼn gemotiveerde, verenigde polisiediens nodig wat deur mense met integriteit eerder as rasse-agendas gelei word.
# Die Europese Unie het die leier van Hamas in Gaza, Yahya Sinwar, op sy swartlys vir terroriste-sanksies gevoeg na aanleiding van die aanvalle op Israel op 7 Oktober. AFP berig die stap beteken Sinwar is onderhewig aan ʼn bevriesing van bates in die 27 lidlande van die EU en verbied EU-burgers om enige transaksie met hom aan te gaan. Die groepering het die Palestynse Islamitiese beweging, Hamas, reeds as ʼn terroriste-organisasie gelys.
# Sokker: Bafana Bafana het hulle Afcon-veldtog in Ivoorkus met ʼn nederlaag afgeskop toe hulle met twee-nul teen Mali verloor het. Percy Tau het in die eerste helfte met ʼn strafskop misluk, met Hamari Traore en Lassine Sinayoko se doele wat aan Mali drie punte op die punteleer besorg het. Suid-Afrika is nou laaste in Groep E. In die ander groepwedstryd het Namibië teen alle verwagting in ‘n oorwinning behaal, toe Deon Hotto se kopskoot laat in die wedstryd tot ʼn sege oor die 2004-kampioene Tunisië gelei het. Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, gee redes waarom hulle verloor het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-98-sent teen die dollar, 20-rand-65-sent teen die euro en 23-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-955-dollar-77-sent. Die prys van goud is een-duisend-28-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….