Nuus 07:00
BULLETIN 26 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola beklemtoon die belangrikheid om vertroue in multilateralisme te herbou
# Minister Ramokgopa sê die regering sal die Gratis Basiese Elektrisiteitsraamwerk hersien
# En rugby: Pablo Matera word ingesluit terwyl Argentinië drie veranderinge aanbring vir die Bok-kragmeting
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, doen ‘n beroep op G20-lande om samewerking te versterk en vertroue in multilateralisme te herbou. Hy het gister die G20-vergadering vir ministers van Buitelandse Sake by die Verenigde Nasies in New York toegespreek. Die tema van Suid-Afrika se G20-presidensie is Solidariteit, Gelykheid en Volhoubaarheid. Lamola sê belegging in vrede en samewerking is noodsaaklik vir groei, bestendigheid en volhoubare ontwikkeling:
Intussen sê die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, daar is ʼn behoefte aan finansiële geregtigheid. Hy sê dit beteken die internasionale finansiële argitektuur moet hersien word om dit regverdiger en geskik vir vandag se realiteite te maak. Guterres sê wanneer uitleenkoste daal en fiskale ruimte verbreed, kan regerings in ontwikkeling en veerkragtigheid belê en krisisse voorkom:
# Die Konstitusionele Hof het gehoor hoe die vertolking van toestemming in verkragtingsake in Suid-Afrika, dit bemoeilik om sulke sake te bewys. Die Embrace Project se regsverteenwoordiger, Nasreen Rajab-Budlender, het aangevoer die Wet op Seksuele Misdrywe beskerm oortreders deur hulle toe te laat om ‘n subjektiewe siening van toestemming te handhaaf. Sy het gesê hierdie benadering is in verkragtingsmites gewortel, en verhoog op ‘n onredelike manier die moontlikheid dat mans vrygespreek word:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê die regering sal die raamwerk vir gratis basiese elektrisiteit hersien om seker te maak dié wat kwalifiseer word reg gesubsidieer. Daar is tans sowat 2,1-miljoen klante wat volgens Eskom vir gratis basiese elektrisiteit kwalifiseer, maar slegs 485-duisend kry dit. Ramokgopa sê sodra slim-meters ingestel is, sal die regering in staat wees om vooraf die toekenning vir gratis elektrisiteit te laai vir ʼn huishouding wat kwalifiseer.
# Rugby: Argentinië het drie veranderinge aangebring aan hul span wat Suid-Afrika Saterdag in hul voorlaaste Rugbykampioenskap-wedstryd in Durban takel. Voormalige kaptein Pablo Matera keer as flank terug na die opdrafspan nadat hy in Sydney op die bank begin het in hul oorwinning oor Australië in die vierde ronde. Franco Molina en Lucas Paulos is in die tweede ry. Afrigter Felipe Contepomi het ʼn 6-2-verdeling op die bank gekies met Simon Benitez Cruz en Tomas Albornoz as plaasvervanger-agterspelers.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-45-sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-717-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-740-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-65-sent per vat.
# En om af te sluit: Die Suid-Afrikaanse Polisiediens hou vandag sy jaarlikse Nasionale Gebedsdag in Soweto, as deel van Polisieveiligheidsmaand. Die geleentheid poog om gevalle polisiebeamptes te vereer, te bid vir die veiligheid en waagmoed van lede wat steeds dien, en om bestuur te verseker dat hulle ondersteun word. Geloofsleiers, gemeenskapsverteenwoordigers en polisiebeamptes sal deelneem aan gebede, preke en kersaansteekseremonies. Die Gebedsdag word in al nege provinsies gehou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….