Nuus 07:00
BULLETIN 25 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa doen ‘n beroep op finansiering vir volhoubare ontwikkeling
# Die Padongelukkefonds hervat die betaling van eise
# En swem: Chad le Clos het herstel van ’n besering om in Suid-Afrika deel te neem
# President Cyril Ramaphosa sê sommige nasies kan duisend-miljarde beskikbaarstel om hul burgers en ekonomieë teen pandemies en ander krisisse te beskerm, terwyl ander gekniehalter word deur skuld en gebrek aan toegang tot globale kapitaal. Hy het deelgeneem aan die tweejaarlikse beraad vir ‘n volhoubare, veerkragtige en inklusiewe wêreldekonomie by die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering in New York. Ramaphosa sê om die finansieringsgaping in volhoubare ontwikkelingsdoelwitte te sluit, moet dapper maatreëls ingestel word:
# Die Padongelukkefonds se raad sê hy doen beslissende stappe om vertroue in die eiseproses te herstel en ʼn volhoubare bestuurstelsel in te stel om agterstande in die toekoms te voorkom. Die raad gee volgens ʼn noukeurige hersiening voorkeur aan uitbetalings wat die aanvang van uitbetalings vergemaklik. Die fonds begin met uitbetalings vir eise wat meer as 180 dae hangende is en die totale bedrag van hierdie eise is meer as 20-miljard-rand. Die raad sê hy beplan om reg deur die jaar sowat vier-miljard-rand maandeliks uit te betaal.
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, vra die benoeming van gekwalifiseerde individue om vakatures op die rade van Gemeenskapsonderwys- en Opleidingskolleges te vul. Die stap, wat verlede week in die Staatskoerant gepubliseer is, is daarop gemik om bestuur, verantwoordbaarheid en vernuwing in die sektor te bevorder. Manamela het die kolleges beskryf as ‘n brug van hoop vir naskoolse jeug en volwasse leerders. Hy het die behoefte beklemtoon aan rade wat gemeenskapsambisies weerspieël en plaaslike ontwikkeling dryf.
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement het bevestig dat die Weskoppies Psigiatriese Hospitaal in Tshwane noodmaatreëls ingestel het nadat kragonderbrekings die fasiliteit geraak het. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê rugsteunstelsels en bykomende lampe word gebruik, terwyl alternatiewe selfoonnommers vir kritieke dienste toegeken is. Hy het bevestig dat die onderbrekings deur diefstal en vandalisme veroorsaak is, met herstelwerk wat na verwagting etlike dae sal duur:
# Die Oekraïnse president, Volodymyr Zelensky, waarsku president Vladimir Putin van Rusland sal aanhou om die oorlog in sy land selfs verder te dryf tensy hy gekeer word. Hy het gister die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering in New York toegespreek. Zelensky doen ʼn beroep op wêreldleiers om in te gryp en te keer dat Rusland die wêreld lei deur die vernietigendste wapenresies in die mensdom se geskiedenis. Hy sê die kombinasie van hommeltuigtegnologie en kunsmatige intelligensie kan rampspoedig eindig:
# Swem: Die viermalige Olimpiese medaljewenner, Chad le Clos, keer terug na belangrike kompetisies wanneer hy die naweek deelneem aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Kortbadkampioenskap in Pietermaritzburg, wat vandag begin en tot Sondag duur. Die 33-jarige swemmer het met ʼn rugbesering gesukkel. Le Clos gaan in die 50-meter-rugslag, die 50- en 100-meter-vlinderslag en die 100-meter-vryslag meeding. Ander deelnemers sluit in Chris Smith, Jessica Thompson, Lara van Niekerk en Kris Mihaylov.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-33-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-785-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-738-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….