Nuus 07:00
BULLETIN 23 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership SA sê die land moet sy handelsverskeidenheid bespoedig
# Die EFF sê Zille het geen idee hoe om Johannesburg se ingewikkelde probleme op te los nie
# En krieket: Die Pakistan-vroue klop Suid-Afrika in die laaste eendagwedstryd
# Business Leadership South Africa sê te midde van onderhandelings met Amerika, moet die regering vir alle moontlikhede voorberei deur sy handelsdiversifikasie te versnel. Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, het verlede week die Amerikaanse handelsverteenwoordiger, Jamieson Greer, en kongreslede in Washington ontmoet om ‘n ooreenkoms te bereik. BLSA se uitvoerende hoof, Busiswe Mavuso, sê in ʼn toenemend versplinterde wêreldekonomie, sal Suid-Afrika se sukses nie afhang van ʼn enkele handelsband nie, maar van sy vermoë om veerkragtigheid te bou deur verskeie paaie na voorspoed.
# Die geskorste nasionale adjunk-polisiekommissaris vir Misdaadopsporing, Shadrack Sibiya, is gedurende getuienis by die Madlanga-kommissie van ondersoek in Pretoria, met die tenderpreneur Vusimuzi “Cat” Matlala verbind. Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, het die kommissie meegedeel dat ‘n besorgde persoon beweer het Sibiya het noue bande met Matlala wat aangekla is van pogings tot moord. Masemola sê hy het Misdaadintelligensie aangesê om ondersoek in te stel wat gelei het tot deursoekings by Matlala se persele en die arrestasie van die Sandtonse sakeman Katiso “KT” Molefe:
# Die EFF sê Helen Zille het geen begrip van die Stad Johannesburg se ingewikkelde kwessies en hoe om dit op te los nie. Zille is die DA se burgemeesterskandidaat vir Johannesburg vir volgende jaar se plaaslike-regeringsverkiesing. Indien sy verkies word, sal Zille op 74 jaar die oudste Johannesburgse burgemeester in die land se demokratiese geskiedenis wees. Die EFF se Gautengse leier, Nkululeko Dunga, sê met Zille as keuse toon die DA ʼn gebrek aan vermoë:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, waarsku die beginsels van die organisasie is onder beleg soos nog nooit voorheen nie. Hy het gister ʼn toespraak by die Algemene Vergadering in New York gehou om die VN se 80ste bestaansjaar te vier. Guterres sê die VN het die pad aangewys vir sommige van die mensdom se grootste seges, soos die uitwissing van pokke, die herstel van die osoonlaag en die voorkoming van ʼn derde wêreldoorlog:
# Krieket: Pakistan se vroue het Suid-Afrika met ses paaltjies verslaan in die derde en laaste eendagwedstryd in Lahore wat die besoekers met 2-1 beklink het. Die linkerhand-draaibouler Nashra Sandhu het haar beste loopbaantelling behaal met ses paaltjies vir 24 lopies, en Suid-Afrika was op 115 almal uit. In antwoord daarop het Sidra Amin ʼn onoorwonne vyftigtal aangeteken en Pakistan tot oorwinning gelei met 19 boulbeurte oor. Hierdie reeks was ter voorbereiding van die Vroue-wêreldbeker in Indië en Sri Lanka, wat op 30 September begin.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-277-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-754-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-81-sent per vat.
# En ten slotte: Die hertogin van York is verwyder as beskermvrou van ‘n kinderliefdadigheidsorganisasie ná ‘n e-pos waarin sy die seksoortreder Jeffrey Epstein haar uitsonderlike vriend genoem het. Julia’s House, ‘n tehuis van die organisasie wat gesinne in die Engelse dorpe Dorset en Wiltshire bedien, het Sarah Ferguson, die voormalige vrou van prins Andrew uit haar rol verwyder. ‘n Woordvoerder van die liefdadigheidsorganisasie het gesê na aanleiding van die nuus oor die e-pos het hulle besluit dit sal onvanpas wees indien sy as beskermvrou aanbly.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….