Nuus 07:00
BULLETIN 22 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit onthul ‘n voorgestelde handelsraamwerk as deel van sy VSA-besoek
# Brittanje, Kanada en Australië erken ‘n Palestynse staat amptelik
# En rugby: Veteraan Willie le Roux gaan saam met die Bokke in Durban oefen
# Solidariteit sê hy het ‘n voorgestelde handelsraamwerk tussen Suid-Afrika en Amerika bekendgemaak. Die vakbond beskryf sy besoek aan Amerika as ʼn uitgebreide gemeenskaps-diplomatieke besoek. Connie Mulder van Solidariteit sê die raamwerk fokus veral op die beskerming van eiendomsregte en dat Amerikaanse maatskappye van swart ekonomiese bemagtiging uitgesluit word. Hy sê die raamwerk stel voor dat die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika se struktuur gebruik word om verligting vir tariewe te bewerkstellig:
# Die Minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê daar is vordering om institusionele onafhanklikheid en die vereniging van ‘n enkele regbank te verseker. Tydens ‘n virtuele bespreking met Judges Matter het Kubayi bevestig dat ‘n taakspan toesig hou oor die oordrag in fases van sekere funksies van die Departement van Justisie na die Kantoor van die Hoofregter, om administratiewe en operasionele regterlike onafhanklikheid te bereik:
# Die parlementêre gekose komitee oor Ekonomiese Ontwikkeling en Handel vra die regering om dringend ʼn nasionale krisisberaad oor werksverliese te hou. Coca-Cola Beverages South Africa is die jongste maatskappy wat afleggings aangekondig het en beplan om 680 mense af te lê en aanlegte in Bloemfontein in die Vrystaat en Oos-Londen in die Oos-Kaap te sluit. Die buitebandreus Goodyear en Ford Motor-maatskappy Suid-Afrika het ook vanjaar werkers afgelê. Die komitee sê massa-afleggings en groot maatskappye wat afskaal, het heeltemal te algemeen in die land geword.
# Kaapstad is vandag die gasheer vir die G20-ministeriële uitreiksessie oor ramprisikovermindering, gelei deur die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa. Die geleentheid, met die tema “Kusbeskerming en eko-gebaseerde ramprisikovermindering”, gaan oor strategieë om stygende seevlakke, oorstromings en erosie te bestry. Die program wil wêreldwye samewerking versterk, stedelike klimaatsveerkragtigheid beklemtoon en innoverende, natuurgebaseerde oplossings bied. Plaaslike projekte en gemeenskapsinisiatiewe wat Suid-Afrika as leier bevestig, sal vertoon word.
# Die Verenigde Koninkryk, Kanada en Australië het amptelik erkenning aan Palestina as staat gegee. Dis in aanloop tot die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering dié week in New York. Die dodetal in Gaza sedert Hamas se inval op 7 Oktober 2023 en die Israelse Weermag se reaksie daarop, staan op sowat 65-duisend. Die Verenigde Koninkryk se eerste minister, Keir Starmer, sê hulle sluit aan by meer as 150 lande wat ʼn Palestynse staat erken om hoop op vrede en ʼn tweestaat-oplossing te herstel:
# Rugby: Die Springbokke het heelagter Willie le Roux ingesluit by hul groter oefengroep in Durban, waar hulle voorberei om Argentinië te takel in Saterdag se voorlaaste Rugbykampioenskapswedstryd op Kingspark. Die 36-jarige Le Roux wat nie in die groep van 33 vir die laaste twee Kampioenskapswedstryde teen die Pumas was nie, oefen tot Woensdag saam met die span. Bokafrigter Rassie Erasmus sê hulle probeer oefen soos hulle speel, en met Le Roux in die kamp, kan hulle die gehalte van hul oefensessies verbeter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-697-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-692-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….