Nuus 07:00
BULLETIN 19 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA-LP Dianne Kohler Barnard weerlê Mkhwanazi se bewerings teen haar
# Die kabinet keur die konsep Nasionale Entrepreneurskapstrategie goed
# En Oekraïne ontvang duisende liggame van gevalle soldate
# Die DA-parlementslid, Dianne Kohler Barnard, verwerp die bewerings wat die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, teen haar gemaak het. Hy het gister voor die Madlanga-ondersoekkommissie getuig en beweer Kohler Barnard en die National Coloured Congress se LP, Fadiel Adams, het vir politieke gewin by intelligensiebedrywighede ingemeng. Hy beskuldig Kohler Barnard dat sy by ‘n misdaadsindikaat betrokke is en haar posisie gebruik om openbare aanvalle op die Misdaadintelligensie-eenheid aan te hits. Kohler Barnard sê die bewerings is verregaande, lasterlik en ongegrond:
# Die Kabinet het die vrystelling van die konsep Nasionale Entrepreneurskapstrategie en Implementeringsplan vir openbare kommentaar goedgekeur. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die strategie fokus op die bevordering van die jeug en voorheen benadeelde ondernemings, deur mikro-, klein- en mediumgrootte ondernemings te versterk. Die plan sluit entrepreneurskapsonderwys, tegnologie-uitruiling, toegang tot befondsing en markte, regulatoriese hervorming en netwerkvorming in:
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die Nasionale Vervolgingsgesag se Batebeslagleggingseenheid ʼn finale verbeurdverklaringsbevel toegestaan teen ʼn maatskappy wat met die diamanthandelaar, Louis Liebenberg, en sy vrou Desiree se bedrieglike beleggingskema verbind word. Die bevel het betrekking op winste uit onwettige aktiwiteite wat in ʼn Standard Bank-rekening in die naam van die ZencoCare-maatskappy gehou word. Desiree Liebenberg is ZencoCare se enigste direkteur. Die egpaar word betrek by ʼn onwettige beleggingskema wat plaaslike en buitelandse mense gelok het om in pakkies diamante te belê.
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Verdediging en Militêre Veterane verwelkom die inhegtenisneming van vyf lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag en twee buitelanders in Musina, Limpopo. Hulle is vasgetrek na ʼn beweerde poging om onwettige smokkelaars in ʼn ongemagtigde operasie te onderskep en onwettige sigarette by ʼn militêre basis te versteek. Die weermaglede is borgtog van vyf-duisend-rand toegestaan, maar hul Zimbabwiese medebeskuldigdes is borgtog geweier en bly in aanhouding. Die komitee sê hierdie weermaglede het geen plek in die SANW nie.
# Oekraïne het ‘n duisend liggame uit Rusland ontvang wat Moskou sê gesneuwelde Oekraïnse soldate is. ‘n Regeringsliggaam wat getalle voorsien oor Russiese krygsgevangene en verlore Russiese soldate, sê Oekraïne het 24 liggame van Russiese soldate in ruil teruggestuur. Die repatriasie van die liggame van soldate en die uitruil van krygsgevangenes is van die min aspekte van die oorlog waar daar wel samewerking tussen Oekraïne en Rusland is. Tien-duisende soldate van albei lande is dood sedert Rusland se inval in 2022, alhoewel nie een van die kante gereeld inligting oor hulle eie slagoffers deel nie.
# Gholf: Die jong Suid-Afrikaanse sterre, Benjamin van Wyk en Tyran Snyders, is onder vyf voorlopers wat gelykop is na die tweede ronde van die Sunbet Challenge by die Umhlali-buiteklub in KwaZulu-Natal. Hulle loop op ses onder baansyfer voor saam met hul landgenote, Jaco Prinsloo, Louis Albertse en Pieter Moolman. Hulle is almal een hou voor die res van die spelers. Snyders sê vandag se finale ronde gaan opwindend wees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-325-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-639-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….