Nuus 07:00
BULLETIN 14 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Mantashe sê dis belangrik om Suid-Afrika se brandstofreserwes te versterk
# OUTA waarsku dat tariefverhogings nie die regeringskrisis kan oplos nie
# En rugby: Die Junior Bokke klop Engeland en dring deur na die Junior Wêreldkampioenskap-eindstryd
# Die minister van Minerale en Petroleum Hulpbronne, Gwede Mantashe, sê daar is ‘n behoefte aan ʼn Strategiese Voorraadbeleid in Suid-Afrika om gereedheid in geval van ernstige olie-ontwrigting te bevorder. Die departement het ʼn konsepbeleid gepubliseer wat voorstel dat alle gelisensieerde grootmaat olie- en brandstofverskaffers en -invoerders 21 dae se voorraad moet aanhou. Die departement waarsku afhanklikheid van lang skeepsroetes en spesifieke maritieme knelpunte stel die ekonomie bloot aan sowat een-miljard-rand se verliese per dag indien geen brandstof beskikbaar is nie
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê Suid-Afrikaners is moeg om meer te betaal vir verswakkende munisipale dienste terwyl gebrekkige staatsbestuur ongestraf bly. OUTA voer aan stygende tariewe kan nie finansiële wanbestuur, korrupsie en mislukte infrastruktuur oplos nie. Die organisasie sê die regering moet inkomste wat uit elektrisiteit- en waterheffings ingevorder word, teen ander besteding beskerm, strenger toesig oor munisipale finansies instel en amptenare wat verantwoordelik is vir wanbestuur aanspreeklik hou. Die organisasie sê die regering moet eerder dienslewering verbeter as om inwoners met hoër koste te belas.
# Die vakbondfederasie Cosatu sê die Mediese Skema vir Staatsamptenare het kollektiewe bedinging ondermyn deur lede direk in te lig dat die Raad vir Mediese Skemas ‘n voorstel verwerp het om die verhoging in bydraes vir 2026 tot 7,5-persent te verminder. Zanele Sabela van die federasie sê GEMS het georganiseerde arbeid en die Koördinerende Bedingingsraad vir die Staatsdiens omseil deur direk met die media en werkers te kommunikeer. Sabela dring aan dat behoorlike bedingingsprosesse gerespekteer word:
# Die Stad Ekurhuleni sê hy bly verbind tot bestuur en aanspreeklikheid. Die geskorste adjunkhoof van die Metropolisie, Julius Mkhwanazi, en die munisipale bestuurder, Kagiso Lerutla, het gister in die hof verskyn. Hulle staan tereg op aanklagte van bedrog, korrupsie en regsverydeling oor bewerings van identiteitsbedrog in ʼn hof. Mkhwanazi word ook beskuldig dat hy voertuie van die vermeende misdaadbaas, Vusimuzi Cat Matlala, se veiligheidsfirma van blou ligte voorsien het. Ekurhuleni se woordvoerder, Phakamile Mbengashe, sê hulle ondersteun wetstoepassingsagentskappe se werk:
# Die Britse regering sê hy gaan alle ondersteuning aan Iran se Islamitiese Rewolusionêre Wagkorps verbied, wat verbind word met doodsdreigemente, aanvalle en intimidasie in Brittanje. Die verbod volg na onlangse aanvalle op Joodse persele in Londen. Twee ander groepe word ook verban: die Islamitiese Beweging van Metgeselle van die Regte wat met Iran verbind word, en die Russiese GRU Vrywilligerkorps, ʼn internasionale afdeling van Russiese militêre intelligensie. Die Britse minister van Buitelandse Sake, Yvette Cooper, sê hulle kan nie toelaat dat landsburgers se veiligheid bedreig word nie:
# Rugby: Die verdedigende kampioene, die Junior Springbokke, is deur na die Junior Wêreldkampioenskap-eindstryd nadat hulle Engeland in Tbilisi, Georgië, met 53-37 afgeransel het. Kevin Foote se manne het sewe drieë gedruk. Die vleuel, Khuthadzo Rasivhaga, het drie keer oorgeduik en losskakel Yaqueen Ahmed het 23 punte bygedra om die oorwinning te beklink. Suid-Afrika en Frankryk sal Saterdag in die eindstryd kragte meet nadat die Franse in die ander halfeindstryd die Nieu-Seelanders naelskraaps met 26-22 geklop het. Engeland en Nieu-Seeland sal sake uitspook vir derde plek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 22-rand teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-453-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-996-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….