Nuus 07:00
BULLETIN 16 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Finansies waarsku volgende maand se begroting gaan ‘n moeilike een wees
# AfriForum vra vir die privatisering van die SABC en skrapping van TV-lisensies
# En krieket, Durban’s Super Giants klop Joburg Super Kings en bly onoorwonne
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, waarsku volgende maand se begroting gaan ‘n moeilike een wees omdat Suid-Afrika se vermoë om sy toenemende skuld te betaal, ʼn probleem bly. Die minister het verlede jaar beklemtoon die staatsfinansies moet gestabiliseer en groei moet versnel word terwyl Nasionale Tesourie waarsku oor ʼn hoër skuldtrajek oor die volgende twee jaar. Godongwana sê voortslepende kragonderbrekings en ʼn logistieke krisis gaan voort om ekonomiese groei in die land te belemmer. Hy sê Tesourie werk tans in ʼn taamlik beperkte fiskale ruimte.
# AfriForum vra ‘n groot opknapping van die SABC. Die burgerregte-organisasie is ten gunste van die privatisering van die staatsuitsaaier of die skrapping van TV-lisensies sodat iets gedoen kan word aan die voortslepende kwessies van befondsing, korrupsie en wanbestuur. Ernst van Zyl van AfriForum hou vol privatisering kan doeltreffendheid verbeter, en sorg vir beter programgehalte. Hy wys op buitensporige hoë koerse van ontduiking en nie-voldoening, sowel as onregverdigbare bykomende finansiële druk op arm huishoudings:
# Die Onderwysdepartement in Gauteng sê hy is gereed vir die nuwe akademiese jaar. Volgens die woordvoerder Steve Mabona is alle leerders geplaas, en die departement hanteer tans laat-aansoeke. Mabona sê hulle verwag nóg ouers sal na vore kom met uitstaande dokumente wanneer skole dié week heropen:
# Die ANC in die Wes-Kaap sê hy oorweeg regsoptrede teen die DA in die provinsie oor die omstrede Wetsontwerp op Provinsiale Magte. Die DA het besluit om met die wetsontwerp voort te gaan ten spyte van twee regsmenings wat die provinsiale wetgewer ingewin het, en wat kommer wek. Die ANC-leier in die wetgewer, Cameron Dugmore, sê dit sal ʼn verkwiste uitgawe wees om met die wetsontwerp en openbare verhore voort te gaan. Die EFF se provinsiale leier, Unathi Ntame, beskuldig die DA van bewapening en dat hy die wetsontwerp teen die gees van eenheid gebruik.
# Die Britse eerste minister, Rishi Sunak, het berigte verwerp wat beweer die lugaanvalle teen die Iran-ondersteunde militante Houthi-groep was deel van die Israel-Gaza-oorlog en sê dit was uit selfverdediging. Die Amerikaanse en Britse weermagte het verlede week talle Houthi-teikens in Jemen aangeval nadat Houthi’s sedert November verlede jaar meer as 25 onwettige aanvalle op handelskepe in die Rooisee uitgevoer het. Sunak sê die Verenigde Koninkryk pas internasionale reg toe om internasionale skeepsvaart te beskerm:
# Krieket: Die Durban Super Giants is steeds onoorwonne in die tweede SA20-seisoen met ʼn oorwinning van 37 lopies oor die Joburg Super Kings op Kingsmead in Durban. Heinrich Klaasen het 64 van 41 balle behaal terwyl die tuisspan 145 vir agt in hulle 20 boulbeurte aangeteken het. Reece Topley het daarna drie paaltjies platgetrek en die besoekers was op 108 almal uit. Met hierdie sege behou die Super Giants hulle plek boaan die punteleer en verdien ook ʼn belangrike bonuspunt.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-649-dollar-47-sent. Die prys van goud is twee-duisend-50-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….