Nuus 07:00
BULLETIN 13 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering neem kennis van Fitch se besluit om Suid-Afrika se skuld te bevestig
# Noord-Korea stel meer mense tereg wat buitelandse rolprente en televisie kyk
# En rugby: Die Curriebeker-kompetisie bereik sy voorlaaste ronde
# Die regering het kennis geneem van Fitch se besluit om Suid-Afrika se langtermyn-skuldgradering in buitelandse en plaaslike geldeenhede op BB- te bevestig en ‘n bestendige vooruitsig te handhaaf. ‘n Senior ontleder vir risiko’s in lande, Benni Mphaphuli, sê volgens Fitch word Suid-Afrika se kredietgradering deur verskeie faktore beperk. Dit sluit in lae reële BBP-groei, hoë armoede- en ongelykheidsvlakke, ‘n hoë en stygende staatskuld-tot-BBP-verhouding, sowel as ‘n rigiede fiskale struktuur wat die vermindering van die begrotingstekort belemmer:
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, moedig die party se jeugliga aan om militant en polities bewus te wees en verbind te bly om Suid-Afrika se toekoms te vorm. Hy het by die liga se tweede nasionale algemene raad in Kimberley, Noord-Kaap gewaarsku teen faksies en onproduktiewe geskille. Mbalula het die jeugliga aangemoedig om die rewolusie te verdedig, dissipline te handhaaf, en pogings te lei met dienslewering voor die komende plaaslike verkiesing:
# COSATU het die besluit van die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging verwelkom om die konsepregulasies vir die Nasionale Kredietwet te onttrek. COSATU sê die regulasies het die risiko geloop om studenteskuld op ’n swartlys te plaas, wat gegradueerdes se werkvooruitsigte sou bedreig. Die vakverbond het Tau se vinnige reaksie en politieke volwassenheid geprys wat tot die breëer debat bydra. Matthew Parks van Cosatu het toegang tot onderwys beklemtoon, die versterking van NSFAS, en die bylyning van vaardighede met ekonomiese behoeftes om werkloosheid, armoede en ongelykheid aan te spreek:
# Die regering van Noord-Korea pas al meer die doodstraf toe, onder andere vir mense wat buitelandse films of TV dramas kyk of deel. Meer mense in die diktatorskap word ook onderwerp aan dwangarbeid met vryhede wat verder beperk word. Die VN Menseregtekantoor het bevind Noord-Korea het beheer verhoog oor “alle aspekte van landsburgers se lewens”. Ten minste ses verordeninge wat die doodstraf toelaat is sedert 2015 ingestel. Vlugtelinge het aan VN-navorsers gesê teregstellings word deur vuurpeletons in die openbaar uitgevoer, om burgers te ontmoedig om die wet te oortree.
# Rugby: Die Curriebeker-Premierliga het die voorlaaste ronde bereik, met nog net vier spanne wat die beker kan wen. Die Leeus, wat boaan die punteleer is, speel teen die vierde-geplaasde Boland Kavaliers in vandag se eerste halfeindstryd, wat vyf-uur op Ellispark afskop. Twee uur later pak die spanne in die tweede en derde plek, Griekwas en Cheetahs, mekaar in Kimberley vir ‘n plek in volgende naweek se eindstryd. ‘n Nuwe kampioen sal gekroon word nadat die Haaie in die groepfase uitgeskakel is.
# En ten slotte: Die ontslape Giorgio Armani se testament kan die toekoms van sy ikoniese modehuis hervorm. Sy erfgename is aangesê om 15-persent van die aandele binne 18 maande te verkoop, met die opsie om nog 54,9-persent van die aandele te verkoop, wat die Giorgio Armani-stigting met ten minste 30-persent laat. Die Italiaanse ontwerper wat verlede week dood is, se voorkeurkopers sluit in Louis Vuitton Moët Hennessy, L’Oréal, en EssilorLuxottica, terwyl ‘n aanvanklike openbare aanbod ook ‘n moontlikheid is. Die stigting sal ‘n nuwe uitvoerende hoof aanstel om die oorskakeling te beheer en die Armani nalatenskap te beskerm.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….