Nuus 07:00
BULLETIN 10 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die regering bestendig die Posbank
# Die MK-party het ‘n formele klag ingedien teen Ramaphosa en Steenhuisen
# En Pretoria se strate sal vandag ontwrig word met betogers wat opruk na die Uniegebou
# President Cyril Ramaphosa sê die bevordering van finansiële insluiting bly ‘n nasionale prioriteit om ongelykheid te verminder en huishoudings en ondernemings te ondersteun. Ramaphosa sê hoewel Suid-Afrika ‘n wêreldklas finansiële sektor het, moet toegang tot befondsing verder uitgebrei word. Hy het bevestig alhoewel die Posbank nog nie aan die voorwaardes vir ‘n volle banklisensie voldoen nie, werk die regering daaraan om die ineenstorting van die Suid-Afrikaanse Poskantoor te voorkom:
# Die MK-party het ‘n amptelike klag teen president Cyril Ramaphosa en die minister van Landbou, John Steenhuisen, ingedien. Die party voer aan hulle het die Wet op die Etiek van Lede van die Uitvoerende Gesag oortree tydens hulle besoek aan die Withuis vroeër vanjaar. Die klag spruit uit Steenhuisen se opmerkings dat die DA by die regering van nasionale eenheid aangesluit het om die MK-party en die EFF daaruit te hou. Die MK-party sê Ramaphosa moet verskoning vra omdat hy nie ingegryp het ná Steenhuisen se opmerkings nie.
# AfriForum het ernstige kommer uitgespreek oor die regering se voorneme om die Suid-Afrikaanse Vereniging van Omgewingsbeoordelingspraktisyns se mandaat tot na 2026 te verleng. Lambert de Klerk van AfriForum voer aan dat die vereniging sedert 2018 versuim het om nakoming af te dwing. Hy waarsku dat die verlenging die risiko van korrupsie vergroot en onderneem om aan te dring op hervorming en onafhanklike toesig:
# Die Stad Tshwane het motoriste gewaarsku oor aansienlike ontwrigting vandag wanneer die Botho Ba Rena Civil and Black Nationalist Forum na die Uniegebou opruk. Betogers dring aan op oplossings vir die Hammanskraal-waterkrisis. Hulle sal tienuur vanoggend by Kgosi Mampuru- en Madibastrate bymekaarkom en dan met Madibastraat beweeg, om teen 2 namiddag te verdaag. Belangrike strate wat ontwrig sal word sluit in Madiba, Bosman, Thabo Sehume en Steve Biko. Motoriste word aangeraai om Leydsstraat, Eskia Mphahlele-rylaan en Pretoriusstraat te gebruik.
# Die Nepalese weermag beskuldig betogers dat hulle die huidige krisis misbruik deur openbare en privaat eiendom te beskadig, te plunder en aan die brand te steek. Die ergste oproer in dekades het vandeesweek in die land uitgebreek ná ʼn verbod op sosiale media en ontevredenheid oor politieke korrupsie en nepotisme. Dit het tot eerste minister KP Sharma Oli se bedanking gelei. Betogers het die parlementsgebou in Katmandoe aan die brand gesteek. Minstens 22 mense is dood sedert die onluste begin het. Die weermag sê hy sal volle beheer neem indien die situasie voortduur.
# Sokker: Bafana Bafana is ʼn stap nader aan kwalifisering vir die 2026 FIFA-Wêreldbeker na die gelykop-uitslag teen Nigerië op die Vrystaat-stadion. Suid-Afrika het die voortou geneem danksy die doel van William Troost-Ekong. Calvin Bassey het die Super Eagles se gelykmaker egter net voor rustyd aangeteken. Bafana het nou 17 punte en behou hulle posisie boaan Groep C, met twee uitspeelwedstryde wat oorbly. Afrigter Hugo Broos sê hy is trots op sy spelers:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-52-sent teen die dollar, 20-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-968-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-628-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-68-sent per vat.
\Bly ingeskakel vir meer nuus……………….