Nuus 07:00
BULLETIN 9 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die aanbevelings van die Madlanga-kommissie sal nie bindend wees nie
# Bykans 80-miljoen-rand is in 2024/2025 bestee aan die deportasie van onwettige immigrante
# En negentien is dood in betogings oor ‘n sosialemedia-verbod in Nepal
# Die Madlanga-ondersoekkommissie sê sy aanbevelings sal nie bindend wees nie en slegs as riglyn vir president Cyril Ramaphosa dien. Die kommissie moet KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se bewerings van misdadigheid, politieke inmengery en korrupsie in die polisie ondersoek. Hy sal die eerste getuie wees wanneer die verhore volgende Woensdag in Pretoria begin. Die kommissie se getuienisleier, advokaat Matthew Chaskalson, sê hulle hoop Ramaphosa sal op hul aanbevelings reageer:
# Die DA sê die nuwe Kodes oor Goeie Praktyk oor Ontslag moet sonder versuim ingestel word. Die kode bied omvattende en praktiese riglyne vir werkgewers, werknemers en vakbonde. Dit sluit sake in soos wangedrag, onbevoegdheid en bedryfsvereistes soos afleggings onder die Wet op Arbeidsverhoudinge. Michael Bagraim van die DA sê om seker te maak dit word volledig ingestel, sal die party oorsigbesoeke bring aan die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie se kantore:
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê byna 80-miljoen-rand is in die 2024/2025-boekjaar bestee aan die deportasie van onwettige immigrante. Hy het dit bekendgemaak in antwoord op ‘n geskrewe parlementêre vraag van die Patriotic Alliance. Sedert die regering van nasionale eenheid net meer as ʼn jaar gelede ingestel is, het die departement meer as 51-duisend onwettige immigrante uit die land gesit. Minister Schreiber sê in die 2022/2023-boekjaar is meer as 32-miljoen-rand, en in 2023/2024 is meer as 67-miljoen-rand bestee om onwettige immigrante te deporteer.
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het Wes-Kaapse gemeenskappe aangespoor om met die polisie saam te werk om die toenemende bendegeweld te bekamp. Cachalia het tydens ‘n toespraak in Kaapstad wetstoepassingsagentskappe gevra om pogings teen ontwikkelende misdaadpatrone te verskerp. Cachalia het beklemtoon georganiseerde misdaad lei tot meer geweld en waarsku die staat moet alle beskikbare hulpbronne ontplooi om dit te bekamp. Hy beklemtoon gemeenskapsbetrokkenheid bly noodsaaklik in die stryd teen misdaad:
# Minstens 19 mense is dood tydens betogings in Nepal oor ʼn regeringsverbod op aanlyn platforms soos Facebook, Instagram, WhatsApp en X. Sowat 145 mense is beseer, insluitend 28 polisiebeamptes. Die betogers wat hulself Generation Z noem, sê die verbod is sensorskap om inhoud te beheer wat krities is teenoor die regering en om teenstanders te straf. Die regering sê sosialemedia-netwerke het herhaaldelik kennis gekry om hul maatskappye amptelik in die land te registreer, maar het versuim om dit te doen.
Tennis: Die pasgekroonde Amerikaanse Ope-kampioen, Carlos Alcaraz, sê ‘n loopbaan-Grand Slam is sy doelwit nadat hy Sondag sy sesde Grand Slam-titel ingepalm het. Hy het sy vernaamste teenstander, die Italianer Jannik Sinner, as die wêreld-nommer-een vervang, en sal die jongste man wees om al vier Grand Slam-toernooie te wen as hy in Januarie in die Australiese Ope seëvier. Die 22-jarige Alcaraz het nog nooit verder as die kwarteindronde in Melbourne gevorder nie. Sy beroemde landgenoot, Rafael Nadal, was 24 toe hy die merkwaardige prestasie in 2010 bereik het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-48-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-349-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-644-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….