Nuus 07:00
BULLETIN 6 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie van Ondersoek na die strafregstelsel sal op 17 September begin
# ‘n Regsliggaam veroordeel die moord op die prokureur Bouwer van Niekerk naby sy Sandton-kantore
# En Rugby: Die meeste wedders se geld is op die All Blacks in die legendariese stryd teen die Bokke op Eden Park
# Die Madlanga-kommissie van Ondersoek na misdadigheid, politieke inmenging en korrupsie in die strafregstelsel het bevestig dat die openbare sittings oor bewerings deur KwaZulu-Natal polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, nou op 17 September sal begin. Die sittings is vertraag as gevolg van verkrygingsprobleme by die Departement van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling. Woordvoerder Jeremy Michaels sê kontrakte vir rekenaartoerusting en infrastruktuur is gefinaliseer:
# Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Herstrukturering- en Insolvensiepraktisyns het sy verontwaardiging uitgespreek oor die moord op die insolvensie-prokureur Bouwer van Niekerk by sy kantoor in Sandton. SARIPA sê aanvalle soos hierdie bedreig die regstelsel en die veiligheid van regspraktisyns. Hulle glo die moord is ‘n verwoestende verlies vir die regs- en insolvensiegemeenskap. Die voorsitter van die vereniging, Jo Mitchell-Marais, sê dis hartverskeurend dat etiese praktisyns hul lewens moet waag net om hul werk te doen.
# Die Departement van Elektrisiteit en Energie hersien sy elektrisiteitprysbeleid aangesien elektrisiteit nou onbekostigbaar vir besighede en huishoudings geword het. Minister Kgosientsho Ramokgopa het tydens die aankondiging van die somervooruitsigte gewaarsku dat verhoogde tariewe besteebare inkomste opvreet en mededingendheid seermaak. Die minister het bevestig dat raadpleging landwyd uitgebrei sal word om ’n billiker raamwerk te ontwerp. Hy sê die hersiening behoort na robuuste openbare besprekings teen die middel van 2026 voltooi te wees:
# Sewe mense in Engeland en Skotland wat na bewering verbind word met die verbode groep Palestine Action is van terrorisme-oortredings aangekla. Die polisie sê die beweerde oortredings sluit in die reël van openbare versetoptogte ter ondersteuning van die groep in Londen, Manchester en Cardiff asook ‘n betoging in Londen vandag. Die Britse organisasie Defend our Juries sê die sewe mense is almal lede van die groep. Die Palestine Action-verbod maak dit ontwettig om ‘n lid van die groep te wees en plaas hulle op gelyke voet met organisasies soos Hamas, al-Qaeda en ISIS.
# Rugby: Bok-ondersteuners sal in net meer as twee uur voor hul TV-stelle vasgenael sit wanneer die Bokke die All Blacks in ‘n Rugbykampioenskap-kragmeting op Eden Park in Auckland pak. Die Bokke het laas in 1937 op Eden Park gewen. Nieu-Seeland verdedig tans ‘n reeks oorwinnings van 50 wedstryde op hul tuisveld. Sommige ontleders wys egter daarop dat Suid-Afrika ‘n sterk voordeel het, nadat hulle die laaste vier agtereenvolgende wedstryde teen die All Blacks gewen het, insluitend die mees onlangse kragmeting. Afskoptyd is om 9:05 vanoggend.
En in nog rugby nuus het die afrigter van die Springbokvroue, Swys de Bruin, vir Babalwa Latsha aangewys as kaptein van die span wat môre in ‘n beslissende wedstryd in Groep D van die Vroue-Rugby Wêreldbeker teen Frankryk by Franklin’s Gardens speel. Dit is die eerste keer dat Latsha, wat die rekord hou vir die meeste wedstryde ooit as stut vir die Bokvroue, die span aanvoer. Dit is ook die eerste Bokwedstryde vir losskakel, Mary Zulu en slot, Anathi Qolo, met vier spelers wat vir die eerste keer vir die Bokke speel. De Bruin sê hy is tevrede met die veranderings:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….