Nuus 07:00
BULLETIN 4 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum oefen druk uit vir VSA-sanksies teen Malema
# Drie onderwysers wat glo leerders seksueel aanrand word uit ‘n skool verwyder
# En fietsry: ’n Viermalige Tour de France-wenner gaan ‘n lang herstelproses deurloop na ‘n ernstige ongeluk
# AfriForum se privaat ondersoekeenheid onder leiding van Gerrie Nel het ‘n dossier aan Amerikaanse owerhede oorhandig waarin gevra word vir sanksies teen die leier van die EFF, Julius Malema, ingevolge die Globale Magnitsky-wet. Die wetgewing, wat in 2016 aanvaar is, stel regerings in staat om sanksies te aanvaar teen buitelanders en instellings vir ernstige menseregte-vergrype en korrupsie. Die dossier verwys na korrupsie, geldwassery en bande met die VBS- en die On-Point-skandaal. Nel sê Suid-Afrikaanse owerhede het nagelaat om op te tree en daarom is internasionale druk nodig
# Die nasionale adjunkkommissaris van polisie, Shadrack Sibiya, se regspan vra dat die Hooggeregshof in Pretoria moet besluit watter forum toepaslik is om sy saak aan te hoor. Sibiya betwis die besluit van die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, om hom op spesiale verlof te plaas na bewerings van die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi. Sibiya se regsverteenwoordiger, Kameel Premhid, voer aan dat dit toepasliker sal wees vir die kommissie van ondersoek om die saak te behartig eerder as Masemola:
# Die adjunkhoofregter Dunstan Mlambo waarsku dat sonder onafhanklikheid, sal die wettigheid van die regbank en sy vermoë om vryheid te beskerm, ineenstort. Hy het gister die hooftoespraak gelewer by die opening van die J20-beraad van Konstitusionele en Hooggeregshowe in Johannesburg. Die tweedaagse beraad word gehou onder die tema Geregtigheid in ‘n tyd van Verandering: Onafhanklikheid, Innovasie en Samewerking. Mlambo sê mense vertrou op die howe vir billikheid en sekerheid, en as onafhanklikheid in die gedrang kom, word die beskerming van hul regte ook in die gedrang gebring.
# Die Gautengse Onderwysdepartement sê drie onderwysers, wat daarvan beskuldig word dat hulle leerders seksueel aangerand het, is by die Tiyelelani Secondary School in Soshanguve, Pretoria, verwyder. Die drie is bekend vir die beweerde seksuele aanranding van kinders, terwyl ‘n busbestuurder daarvan beskuldig word dat hy ‘n onbehoorlike verhouding met ‘n leerder gehad het. Onderrig by die skool is ontwrig, aangesien betogende leerders die skoolhoof beskuldig het dat hy nie op die bewerings reageer nie. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê ‘n ondersoek na die bewerings is aan die gang:
# Die Amerikaanse president Donald Trump het oproepe vir die volle openbaarmaking van die Jeffrey Epstein-lêers van die hand gewys. Dit volg terwyl wetgewers druk uitoefen vir die onthulling van meer dossiere wat verband hou met die oorlede finansier en veroordeelde seksoortreder se saak. Dinsdag het die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers se Toesigkomitee meer as 33-duisend bladsye uit lêers vrygestel wat verband hou met Epstein, wat in 2019 selfdood gepleeg het. Trump het die deursigtigheidspoging van wetgewers en slagoffers van Epstein ‘n “Demokratiese foefie” genoem:
# Fietsry: Die viermalige Tour de France-kampioen, Chris Froome, sal nie gou weer op ‘n fiets kan klim nie. Hy het verlede week veelvuldige beserings opgedoen gedurende ‘n oefenrit in Frankryk en is na ‘n hospitaal in Toulon gevlieg. Die omvang van sy beserings is nou eers duidelik. Froome se vrou, Michelle, het aan die media gesê die 40-jarige Brit het ‘n potensieel noodlottige skeur aan die hartsak opgedoen, asook gebreekte ribbes, ‘n platgevalde long en ‘n rugfraktuur. Sy sê die herstelproses sal lank duur.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-66-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-890-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-547-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….