Nuus 07:00
BULLETIN 3 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Arbeid is bekommerd oor werkverliese by ArcelorMittal en ander firmas
# 121 dossiere oor politieke moorde in KZN is aan die Madlanga-kommissie oorhandig
# En rugby: Kolbe sê vorige oorwinnings oor die All Blacks gaan nie Saterdag tel nie
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, is bekommerd oor die voortdurende afleggings, wat talle werkverliese veroorsaak. ArcelorMittal beplan om teen die einde van hierdie maand nog langstaalaanlegte te sluit, wat meer as drie-duisend poste sal sny en ‘n verdere 100-duisend in gevaar stel. Die woordvoerder Thobeka Magcai sê Ford het ook byna 500 afleggings by sy Pretoria- en Gqeberha-aanlegte aangekondig en 900 mense is hul poste kwyt weens die onlangse sluiting van Goodyear:
# Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling se direkteur-generaal, Peter Netshipale, sê die kommunikasie-direkteur, Lumka Oliphant, se skorsing hou nie verband met haar onlangse bewerings op sosiale media nie. Sy sê sy is geskors omdat minister Sisisi Tolashe glo sy het inligting aan die Sunday Times gelek. Die koerant het berig oor die departement se uitspattige besteding van drie-miljoen-rand op ses afgevaardigdes se reis na ‘n slypskool in New York. Netshipale het aan die SABC gesê Oliphant word ondersoek:
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, en die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, het ingestem om die 121 dossiere van die KwaZulu-Natalse taakspan oor politieke moorde aan die Madlanga-ondersoekkommissie te oorhandig. Dit volg nadat die twee verskil het of die dossiere wat van die taakspan weggeneem is, teruggegee moet word. Die dossiere is belangrik in KZN-polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se bewerings oor politieke inmenging in hoëprofielsake. Cachalia en Masemola sê in ʼn gesamentlike verklaring hulle fokus op politieke moorde en belowe om die Madlanga-kommissie te ondersteun.
# Die Nasionale Vervolgingsgesag verwelkom die Hooggeregshof in Pretoria se verwerping van ‘n Artikel 174-aansoek deur beskuldigde nommer vier, Mthokozisi Maphisa, in die Senzo Meyiwa-moordverhoor. Regter Ratha Mokgatlheng het beslis daar is prima facie-bewyse wat antwoorde vereis. Maphisa en vier medebeskuldigdes staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord en roof. Die NVG se woordvoerder, Lumka Mahanjana, sê die uitspraak is ‘n stap in die rigting van geregtigheid met die verhoor wat op 22 September hervat:
# Amnestie Internasionaal beskuldig die Taliban-regering in Afganistan dat hy werksaamhede van humanitêre en hulpagentskappe in die land met beperkende beleide belemmer. Afgaanse vroue word onder meer verbied om vir die Verenigde Nasies in die land te werk. ʼn Aardbewing van 6,0 het Sondag die ooste van Afganistan getref. Een-duisend-400 mense is dood en drie-duisend is beseer. Gister het ʼn naskok van 5,2 voorgekom. Amnestie Internasionaal sê die Taliban de facto owerhede moet aan alle humanitêre organisasies onmiddellike en ongehinderde toegang bied en ontslae raak van administratiewe struikelblokke wat hulpverlening verhinder.
# Rugby: Die Springbok-vleuel Cheslin Kolbe sê vorige oorwinnings oor die All Blacks sal niks tel wanneer hulle Saterdag in Auckland kragte meet nie. Hulle gaan probeer om die eerste Bok-span sedert 1937 te word wat op Edenpark wen en die gashere sal hul onoorwonne rekord op die veld sedert 1994 verdedig. Suid-Afrika het hulle laaste vier wedstryde gewen, maar Kolbe sê Saterdag se uitdaging gaan op ‘n ander vlak wees. Hy glo dis uiters belangrik vir die Bokke om op hulle wedstrydplan gefokus te bly.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-101-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-541-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….