Nuus 07:00
BULLETIN 29 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Munisipaliteite moet voor Desember aan finansiële bestuursvereistes voldoen
# Fikile Mbalula sê die ANC kies burgemeesters wat sal dien, nie steel nie
# En minstens 13 is dood na ‘n aardbewing in Japan
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die Nasionale Tesourie moet die toepassing van finansiële bestuursvereistes balanseer met die nodigheid om te keer dat gemeenskappe die gevolge dra van munisipale instellings en amptenare se mislukkings. Die Tesourie gaan die oorblywende befondsing van 7,1-miljard-rand vrystel wat weens growwe finansiële versuim van munisipaliteite weerhou is. Godongwana sê briewe sal aan premiers en LUR’e vir Finansies gestuur word met streng vereistes vir oorweging in die terughouding van die fondse vir Desember:
Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê intussen munisipaliteite moet slegs begroot vir uitgawes wat deur beskikbare inkomste gefinansier kan word. Hlabisa waarsku munisipaliteite om nie onbefondsde begrotings goed te keur nie en sê dit ondermyn finansiële volhoubaarheid en mislei gemeenskappe:
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula sê die party het ‘n strenger proses ingestel om burgemeesterskandidate te keur voor die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November. Mbalula het aan die media gesê kandidate word ondersoek, word onafhanklik gekeur, en ondervra om te verseker slegs bekwame en etiese leiers word gekies. Hy het ook aangekondig die ANC sal die manifes vir die plaaslike regeringsverkiesing op 15 Augustus in Riverpark, Diepsloot in Gauteng bekendstel:
# Die Tegnologie-innoveringsagentskap het ‘n vennootskapsooreenkoms met die Botswana Digital and Innovation Hub onderteken om innovering en tegnologie-ontwikkeling regoor Suider-Afrika te versterk. Die ooreenkoms sluit planne in om ‘n gesamentlike Suid-Afrika-Botswana-innoveringsfonds te stig om navorsers, nuwe ondernemings en kleinondernemings te ondersteun. Die twee organisasies sal ook saamwerk aan projekte op gebiede soos digitale tegnologie, skoon energie, landbou en mynbou, werkskepping, die lok van beleggings, en om Afrika se innoverings te kommersialiseer.
# Minstens 13 mense is dood en talle word vermis nadat ‘n aardbewing van 6,8 gister die suide van Japan getref het. Meer as 170 mense is beseer. Ongeveer 260-duisend mense is aangeraai om gebiede te ontruim, veral in die Kumamoto- en naburige Nagasaki-prefektuur. Amptenare sê mense word vermis by die Aeon-winkelsentrum en ʼn papierfabriek. Japan se eerste minister, Sanae Takaichi, sê ʼn hoofkwartier vir noodmaatreëls is gevestig. Sy sê reddingspanne werk volgens die beginsel van “menselewens eerste”.
# Gholf: Die Sonskyntoer brei verder uit in Afrika met die bekendstelling van die nuwe Rwanda Ope, wat in September by die Kigali-gholfklub plaasvind. Beroepspelers van die Sonskyntoer en Rwanda, voorste amateurspelers en talle spelers van reg oor Afrika sal aan die toernooi van 2,5-miljoen-rand deelneem. Die Toer het reeds toernooie in Zambië, Zimbabwe, Eswatini, Kenia en Uganda. Die Sonskyntoer-kommissaris, Thomas Abt, sê die Rwanda Ope is nog ʼn positiewe stap om aan Afrika-gholfspelers geleenthede op die wêreldverhoog te bied.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 22-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-789-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-23-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….