Nuus 07:00
BULLETIN 15 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC ondersteun die regterlike ondersoek om die vertroue in staatsinstellings te herstel
# Donald Trump gee Rusland 50 dae om ‘n vredesooreenkoms met Oekraïne te beding
# En rugby: Suid-Afrika sal teen Nieu-Seeland uitdraf in die O.20-kampioenskapseindstryd
# Die ANC glo president Cyril Ramaphosa se besluit om ‘n geregtelike kommissie van ondersoek in te stel na ernstige uitlatings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, herbevestig sy verbintenis tot die oppergesag van die reg. Die party ondersteun ook die stap om die minister van Polisie, Senzo Mchunu, op verlof te plaas hangende die uitslag van die ondersoek. Die ANC-lid, Mahlengi Bhengu, sê hierdie is ‘n noodsaaklike stap om die integriteit van staatsinstellings te handhaaf en openbare vertroue te herstel:
Corruption Watch sê intussen dis teleurstellend dat dit president Cyril Ramaphosa so lank geneem het om ‘n regterlike ondersoekkommissie aan te stel om bewerings van misdadige infiltrering by wetstoepassingsagentskappe te ondersoek. Die kommissie sal die rol van huidige en gewese senior beamptes in sekere instellings ondersoek wat moontlik medepligtig was aan vermeende misdadige aktiwiteite. Corruption Watch sê die ondersoek moet duidelike sperdatums stel en daarby hou, en fluitjieblasers wat voor die kommissie verskyn, moet beskerm word.
# Die Suid-Afrikaanse Raad vir die Argitektuurprofessie het die sperdatum vir sy amnestieveldtog tot 31 Augustus verleng. Die verlenging beteken professionele persone wie se registrasie gekanselleer is as gevolg van ‘n wanbetaling van fooie, het meer tyd om hul status te herstel. Die amnestie behels die kwytskelding van boetes en administrasiefooie met slegs die jaarlikse fooi vir 2025/2026 wat vereis word. Lede wat heringestel word moet aan die vereistes vir Voortgesette Professionele Ontwikkeling voldoen, sowel as Kategorie 1-geleenthede. Dit sluit gestruktureerde opvoedkundige of ontwikkelingsaktiwiteite in wat professionele kennis en vaardighede verbeter om professionele status ten volle te herwin.
# Polisie in Gauteng het ʼn ondersoek begin na ʼn mislukte kaping buite die woning van die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, Fred Kekana, in Westonaria. Die voorval het gister plaasgevind. ʼn Saak van poging tot moord en kwaadwillige saakbeskadiging word ondersoek. Kekana sê die bestuurder wat hom kom oplaai het, het ʼn verdagte BMW opgemerk wat hom agtervolg en is aangeval net toe hy sy voertuig wou parkeer:
# President Donald Trump van Amerika dreig Rusland met nuwe tariewe as hy nie binne 50 dae ʼn vredesooreenkoms met Oekraïne bereik nie. Sedert die begin van sy tweede termyn as president, probeer Trump die Russiese president Vladimir Putin oortuig om die oorlog in Oekraïne te beëindig wat in 2022 met ʼn onwettige inval begin het. Trump en NAVO se sekretaris-generaal, Mark Rutte, het gister by die Withuis gesê hulle sal sekondêre tariewe van tot 100-persent teen Rusland instel as daar geen vordering met ʼn vredesooreenkoms plaasvind nie:
# Rugby: Die Junior Springbokke is deur na die Wêreldrugby Onder-20-kampioenskap se eindstryd ná hulle 48-24-oorwinning teen Argentinië in Viadana, Italië. Suid-Afrika het ses drieë gedruk met Albie Bester wat twee keer oor geduik het, teenoor Argentinië se drie. Die Junior Bokke kom Saterdag in die eindstryd teen Nieu-Seeland te staan nadat die sesmalige kampioene Frankryk met 34-26 verslaan het. Hierdie eindstryd is ʼn herhaling van die een in 2012, toe Suid-Afrika op ʼn uitverkoopte Nuweland gewen het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-86-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-475-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-348-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….