Nuus 07:00
BULLETIN 2 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê regeringstruikelblokke moet verwyder word om werksgeleenthede in die staal- en motorsektore te red
# Suid-Afrika se motormark versnel met ‘n 19-persent-styging in verkope
# En rugby: Erasmus sê Ntlabakanye se weglating uit die Bok-groep gaan nie oor straf nie, maar oor beskerming
# Die DA sê die regering se traagheid het veroorsaak dat duisende Suid-Afrikaners hul werk in die staal- en voertuigbedryf verloor. ArcelorMittal Suid-Afrika gaan drie-duisend-500 poste afskaf terwyl Ford, Goodyear en Mercedes ook honderde werkers gaan afdank. Toby Chance van die DA sê bedrywe kan nie meeding nie, weens die regering se struikelblokke soos rompslomp, hemelhoë elektrisiteitspryse, vervalle spoorweë en hawens, en eindelose vertragings in beleidshervorming:
# Die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika en Sakeliga sê hulle sal ‘n breedvoerige stryd teen die nuwe rasse- en geslagskwotas voer en in die Konstitusionele Hof appelleer. Dit volg nadat die Hooggeregshof in Pretoria hul dringende aansoek van die hand gewys het om die nuwe regulasies vir gelyke indiensneming te stop, wat hierdie maand in werking sal tree. Die Werkgewersvereniging se uitvoerende hoof, Gerhard Papenfus, voer aan die kwotas is ongrondwetlik, skadelik vir sake en onmoontlik om na te kom:
# Die Nasionale Vereniging van Onderdele- en Verwante Vervaardigers sê Augustus het die sterkste binnelandse nuwe voertuigverkope getoon sedert Oktober 2019. Verkope het met byna 19-persent op ‘n jaargrondslag gestyg tot meer as 51-duisend-eenhede. Passasiersmotors het 36-duisend-eenhede oorskry, terwyl uitvoere ook met meer as ses-persent gestyg het ondanks wêreldwye tariefuitdagings. Toyota is die voorloper, gevolg deur Suzuki en Volkswagen. Naamsa se uitvoerende hoof, Mikel Mabasa, sê goedkoper modelle, stygende verbruikersvertroue en makliker toegang tot krediet het groei aangehelp. Mabasa is versigtig optimisties, maar waarsku stygende rentekoerse en ekonomiese druk kan verkope weer verlangsaam.
# Beskuldigde nommer vier in die Senzo Meyiwa-moordsaak, Mthokoziseni Maphisa, sal vandag hoor of die aanklagte teen hom laat vaar word. Dit volg nadat hy aansoek gedoen het vir ‘n Artikel 174-ontslag onder die Strafproseswet. Maphisa voer aan die staat het misluk om hom te verbind met die beweerde plan om die Bafana Bafana-kaptein te vermoor. Meyiwa is in 2014 by sy vriendin, Kelly Khumalo, se huis in Vosloorus, Gauteng, doodgeskiet. Die ander vier beskuldigdes in die saak het hul ontslagaansoeke teruggetrek.
# ʼn Vliegtuig met die Europese Kommissie se president, Ursula von der Leyen, aan boord, se GPS-navigasiestelsel is Sondag geteiken, maar dit het veilig in Bulgarye geland. Bulgaarse owerhede vermoed Rusland sit agter die voorval. Von der Leyen is ʼn groot ondersteuner van Oekraïne terwyl Kiev probeer om homself teen Moskou se aggressie te beskerm. Die kommissie se adjunkwoordvoerder, Arianna Podestà, sê dreigemente en intimidasie is gereeld deel van Rusland se vyandige optrede:
# Rugby: Die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, sê die besluit om Asenathi Ntlabakanye nie in te sluit by die groep vir reeks van twee toetse na Nieu-Seeland nie, is om hom te beskerm. Die 26-jarige speler het positief getoets vir ʼn verbode middel. SA Rugby het bevestig ʼn sportdokter het dit voorgeskryf om ʼn gesondheidsprobleem te behandel. Erasmus sê indien Asenathi op toer was, sou hy baie vrae moes antwoord wat sy fokus kon verskuif van die wedstryd wat voorlê.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-58-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-190-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-494-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….