Nuus 07:00
BULLETIN 1 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SAKP verwyder Gwede Mantashe as lid van sy Sentrale Komitee
# COPE veroordeel minister Cachalia oor inmenging in die politieke moorddossiere
# En rugby: Die Springbok-vroue is deur na hul eerste Wêreldbeker-kwarteindstryd ooit
# Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party het die ANC se nasionale voorsitter, Gwede Mantashe, verwyder uit sy sentrale komitee, die hoogste besluitnemingsliggaam tussen konferensies. Die besluit volg terwyl die SAKP gereedmaak om onafhanklik aan die 2026 munisipale verkiesing deel te neem. Dié stap ontstel sy jare lange bondgenoot, die ANC. Die SAKP se eerste adjunk-hoofsekretaris, Madala Masuku, sê hulle verstaan Mantashe het sy hande vol as minister en met sy pligte in die ANC:
# COPE het die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sterk veroordeel omdat hy die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, beskuldig het dat hy inmeng in 121 politieke moorddossiere. Die waarnemende hoofsekretaris van COPE, Erick Mohlapamaswi, sê Cachalia se eise vir verslae en vertragings oorskry ministeriële gesag en meng in met die operasionele onafhanklikheid van die polisie. Mohlapamaswi dring daarop aan dat ondersoeke sonder politieke druk voortgaan, selfs terwyl die Madlanga-kommissie sy ondersoek doen. Hy dring ook daarop aan dat Cachalia Masemola se mandaat moet respekteer.
# Die adjunkminister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Sihle Zikalala, het uitsettingskennisgewings uitgereik aan meer as 100 onwettige besetters wat staatseiendom in Kaapstad gekaap het. Twee eiendomme in Goodwood en Khayelitsha wat vir die polisie se gebruik bedoel is, is gesteel en word onwettig beset. Dis deel van Operasie Bring Terug, ‘n landwye veldtog om staatseiendom wat gesteel, gekaap en onwettig beset word, terug te kry. Zikalala sê hulle sien ʼn sterk element van staatsbates wat swak bestuur word:
# Die Johannesburgse Krisis-alliansie-beraad gaan die Presidensiële Werkgroep ondersteun met die hantering van die stad se finansiële en diensleweringsuitdagings voor die G20-presidensiële byeenkoms. President Cyril Ramaphosa het die groep aangestel om die finansies te bestendig en bestuur te verbeter. Tydens die beraad het Sikhulekile Duma van die Presidensie gesê die stad is in ‘n finansiële krisis en daarom is die inwoners op deursigtigheid en sterker leierskap geregtig:
# Indië se eerste minister, Narendra Modi, beskryf sy langverwagte ontmoeting met president Xi Jinping van China as vrugbaar. Die twee het gister by die Sjanghai Samewerkingsorganisasie in Tianjin ontmoet. Indië en China staar hoë Amerikaanse tariewe in die gesig onder president Donald Trump se wêreldwye handelsoorlog, asook Westerse teenkanting oor hul verhouding met Rusland. Modi, wat China die eerste keer in sewe jaar besoek, sê Indië is daartoe verbind om die twee lande se verhouding in die toekoms op wedersydse vertroue en respek te bou.
# Rugby: Die Springbok-vroue het in York, Engeland, ʼn 29-24 bonuspunt-oorwinning oor Italië behaal en die eerste keer ooit die Wêreldrugby-beker vir Vroue se kwarteindronde gehaal. Aseza Hele, Nadine Roos, Ayanda Malinga, Sizophila Solontsi en Sinazo Mcatshulwa het Suid-Afrika se vyf drieë gedruk en hulle ʼn tweede oorwinning in Groep D besorg. Hulle het Brasilië in hul openingswedstryd van die toernooi met 66-6 verpletter. Die Bok-vroue se afrigter, Swys de Bruin, sê hierdie oorwinning is spesiaal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-64-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-86-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-440-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….