Nuus 07:00
BULLETIN 30 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Polisie eis ‘n dringende verslag oor die politieke moordtaakspan
# Israel herwin die liggaam van ‘n gyselaar en vind die oorskot van ‘n ander
# En krieket: Daar is 131-miljoen-rand beskikbaar in die SA20-spelersveiling
# Die minister van Polisie, Firoz Cachalia, het ‘n gedetailleerde verslag van die nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola oor die taakspan vir politieke moorde aangevra. Dit volg na die terugbesorging van 121 dossiers aan die span te midde van bewerings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi. Cachalia sê die saak is van openbare belang en moet deeglik ondersoek word. Die woordvoerder van die ministerie, Kamogelo Mogotsi, sê die minister het daarop aangedring dat geen verdere stappe gedoen word voordat die Madlanga-kommissie sy ondersoek voltooi het nie:
# Die Gauteng Provinsiale Wetgewer se portefeuljekomitee oor Gemeenskapsveiligheid het sy kommer uitgespreek oor padblokkades deur die Metropolisie en Gauteng Verkeerspolisie wat al meer gebruik word vir inkomste-invordering eerder as misdaadvoorkoming. Tydens ‘n vergadering met premier Panyaza Lesufi en die provinsiale polisiekommissaris Tommy Mthombeni, het lede opgemerk dat baie operasies fokus op onbetaalde boetes in plaas daarvan om misdadigers, dwelms of onwettige vuurwapens te teiken. Die komitee doen ‘n beroep vir intelligensiegedrewe, misdaadgefokusde padblokkades om veiligheid te verbeter, terwyl motoriste versoek word om verkeerswette te gehoorsaam.
# Die Kaapstad Internasionale Lughawe het ‘n styging van nege-persent op ‘n jaargrondslag vir internasionale tweerigtingpassasiers in Julie aangeteken, met meer as 219-duisend-500 wat verwerk is. Volgens Cape Town Air Access het binnelandse verkeer met agt-persent gegroei tot meer as 607-duisend passasiers. Die George-lughawe het ‘n groei van 20-persent ervaar en meer as 74-duisend passasiers hanteer. Wes-Kaapse lugvragvolumes het in Junie met 36-persent op ‘n jaargrondslag gestyg, gedryf deur die uitvoere van temperatuurbeheerde goedere. Lugdienste, insluitend FlySafair, Suid-Afrikaanse Lugdiens, Proflight Zambia en Air France, het nuwe roetes aangekondig en dienste uitgebrei, wat konnektiwiteit en handel ‘n hupstoot gee.
# Israel se weermag het die liggaam van een gyselaar en die oorskot van ‘n ander in Gaza herwin. Die eerste minister se kantoor sê die liggaam is uitgeken as Ilan Weiss, met die oorskot van die ander nog onbekend. Weiss se vrou en dogter is tydens die Hamas-aanval in Oktober 2023 ontvoer en tydens die eerste wapenstilstand vrygelaat. Daar is gedink dat Weiss nog leef, maar dis later aangekondig dat hy tydens die aanval dood is en sy liggaam na Gaza geneem is. Daar is nou 48 gyselaars oor in Gaza, van wie 20 glo leef.
# En sportnuus:
# Rugby: Die losvoorspeler Louw Nel neem die kapteinskap oor vir die Westelike Provinsie se Curriebeker-kragmeting vanaand teen die Pumas in Kaapstad. Connor Evans en Paul de Villiers vorm saam Nel die lostrio, terwyl Riley Norton na die slotposisie skuif in die plek van die beseerde kaptein, Gary Porter. Die enigste verandering aan die voorry is Mhleli Khuzwayo wat na die beginspan terugkeer. Luke Burger skuif na heelagter, met Joel Leotlela wat sy plek as vleuel inneem. Afskoptyd is vanaand om 7:20.
# En krieket: ‘n Reuse-bedrag van 131-miljoen-rand is beskikbaar vir die ses franchises in volgende maand se spelersveiling van die SA20 se vierde seisoen. Al die spanne het hul voorseisoense ooreenkomste voltooi, asook spelers wat behou is en promotorskeuse-aanwinste. Hulle kan nou fokus om hulle spanne voltallig te maak met die res van hul toegekende 41-miljoen-rand – die tweede hoogste salarisplafon ná die Indiese Premierliga. Pretoria Capitals, met 32,5- miljoen, het die meeste geld oor, gevolg deur Durban’s Super Giants met 29,5-miljoen-rand. Die seisoen begin op 26 Desember.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….