Nuus 07:00
BULLETIN 29 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum kritiseer die MK-party se voorgestelde wetsontwerp om grondregte te hersien
# Gauteng kry sy eie taakspan vir die ondersoek van politieke moorde
# En krieket: Dane van Niekerk sal nie deel wees van die Protea-vroue se Wêreldbeker-groep nie
# AfriForum sê hy is sterk gekant teen Mzwanele Manyi van die MK-party se voorgestelde 22ste Wysigingswetontwerp op die Grondwet. Die privaatlid-wetsontwerp wil Artikel 25 van die Grondwet herskryf en herdefinieer hoe grond en natuurlike hulpbronne besit en bestuur word. Dit stel voor alle grond en natuurlike hulpbronne word gesamentlik deur die mense besit met voogdyskap in die hande van die staat en tradisionele of Khoi-San-leierskap. Barend Uys van AfriForum sê die voorgestelde wetsontwerp is ‘n aanval op die besit van privaat grond:
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens is besig om die skroef teen beïnvloeders op sosiale media aan te draai en dring daarop aan dat hulle hul belastingsake in orde moet kry. Dit kom te midde van ondersoeke na onverklaarde inkomste uit aanlyn inhoudskepping en handelsmerkvennootskappe. Met platforms soos Instagram, YouTube en TikTok wat aansienlike inkomste genereer, gebruik die SAID gevorderde data-ontledings om verdienste op te spoor. Belastingkenners waarsku dat baie beïnvloeders dalk nie bewus is van verpligtinge nie, maar versuim om geborgde plasings, advertensie-inkomste of geaffilieerde inkomste te verklaar, kan tot swaar boetes lei.
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, sê Gauteng sal binne ʼn maand sy eie taakspan kry om politieke moorde te ondersoek. Dit volg nadat 121 dossiere, wat van KwaZulu-Natal na Gauteng oorgeplaas is, weer teruggestuur word na KZN. Die IVP-lid Khethamabala Sithole en wyksraadslid Thabang Masemola is die afgelope maande in Gauteng vermoor. Masemola sê die Gautengse taakspan se werkswyse sal soortgelyk aan dié van KwaZulu-Natal wees:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, sê Israel se eerste stappe vir ʼn militêre oorname van Gazastad is ʼn nuwe en gevaarlike fase en waarsku teen verwoestende gevolge. Volgens berigte is minstens 62-duisend-260 mense, insluitend kinders, sedert Oktober 2023 dood in Israelse aanvalle op Gaza. Guterres sê Israel se weermagoperasies, setlaar-geweld, slopings en diskriminerende beleide verskerp ontworteling en kwesbaarheid in Gaza:
# Krieket: Die Protea-vrouespan se afrigter, Mandla Mashimbyi, sê die voormalige kaptein Dane van Niekerk sal nie ingesluit word by die groep vir die komende Wêreldbeker in Indië en Sri Lanka nie. Dit ten spyte van haar terugkeer na haar uittrede en insluiting by die voortoernooi-oefenkamp in Durban. Die 32-jarige Van Niekerk is steeds in die vormingsfase van haar integrasie in die span nadat sy sedert 2023 buite aksie was. Mashimbyi sê Van Niekerk is deel van ʼn groter plan om moontlike spelers vir 2026 gereed te maak.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-565-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-410-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-38-sent per vat.
# Ten slotte: Die Gautrein, in vennootskap met PRASA, gaan laatnag-treine vir ondersteuners instel wat vanaand die Scorpion Kings Live with Friends-konsert by Loftus Versfeld-stadion bywoon. Pendelaars kan met die Gautrein na Pretoria-stasie reis en naatloos oorskakel na PRASA-treine wat direk na die stadion gaan. Retoerdienste sal tussen Hatfield- en Park-stasies bedryf word, uitgesluit Rhodesfield en O.R. Tambo. Gautrein se uitvoerende hoof, Tshepo Kgobe, sê die inisiatief verseker veilige, doeltreffende vervoer terwyl dit verkeersopeenhopings verminder.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….