Nuus 07:00
BULLETIN 28 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering identifiseer sleutelprioriteite wat noodsaaklik is vir ekonomiese groei en werkskepping
# AfriForum sê Malema en die EFF is ekstremiste wat geweld teen minderhede aanhits
# En Donald Trump wil hê George Soros en sy seun moet vir gewelddadige betogings vervolg word
# Die adjunkminister in die Presidensie, Kenny Morolong, sê die regering het talle belangrike faktore geïdentifiseer wat volgens hom noodsaaklik is vir ekonomiese groei, beleggings en werkskepping. Dit sluit in belegging in infrastruktuur, vervoer, energie en telekommunikasie-infrastruktuur. Hy het gister die 20ste Confederation of Indian Industry Africa India Conclave in Indië toegespreek. Morolong sê die regering erken dis belangrik om handel te fasiliteer om ekonomiese groei en belegging te bevorder. Hy sê dit vereis dat doeaneprosedures en burokrasie vereenvoudig word en logistiek verbeter.
# Die president van die ANC Jeugliga, Collen Malatji, het opposisiepartye in die regering van nasionale eenheid gekritiseer en beskuldig dat hulle nie ernstig of verantwoordelik is nie. Malatji sê die DA ondermyn regeringsprotokolle met sy arrogansie en ministers Gayton McKenzie en Bantu Holomisa het hulself in die verleentheid gestel met roekelose verklarings. Hy voer aan hierdie voorvalle toon baie opposisiepartye is onvoorbereid om Suid-Afrika te lei:
# AfriForum verwelkom die Gelykheidshof se uitspraak teen die EFF-leier Julius Malema. Die hof het Malema skuldig bevind aan haatspraak en aanhitsing tot geweld oor sy opmerkings in 2022 in sy toespraak by die EFF se derde provinsiale volksvergadering in die Wes-Kaap. Ernst van Zyl van AfriForum sê die uitspraak bevestig en beklemtoon wat almal reeds weet, naamlik dat Malema en die EFF ekstremiste is wat geweld teen minderhede aanhits en ‘n boodskap van rassehaat verkondig:
# Die Amerikaanse president Donald Trump het versoek dat die miljardêr George Soros en sy seun strafregtelik aangekla word oor bewerings dat die familie, ‘n gunstelingteiken van die regses, agter “gewelddadige protesoptogte” regoor die land sit. Trump het nie gespesifiseer wat sy oggenduitbarsting veroorsaak het nie, maar dit kom terwyl sy administrasie verskeie strafregtelike ondersoeke teen sy vermeende vyande doen. Langdurige samesweringsteorieë oor die Soros-familie, het weer in Junie opgevlam, toe protesoptogte in Los Angeles uitgebreek het teen ‘n toename in immigrasie-klopjagte.
# Gholf: Keegan Bradley het besluit om homself nie as spelende kaptein vir die Amerikaanse Ryderbeker-span te kies nie. Hy het Justin Thomas, Collin Morikawa, Ben Griffin, Cameron Young, Patrick Cantlay en Sam Burns benoem as sy ses keuses vir volgende maand se Ryderbeker teen Europa in New York. Die ses plekke vir outomatiese kwalifiseerders is vroeër die maand ingeneem deur Scottie Scheffler, JJ Spaun, Xander Schauffele, Russell Henley, Harris English en Bryson DeChambeau. Bradley sê dit was ʼn moeilike besluit om nie deel te neem nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-476-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-387-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-1-sent per vat.
# En ten slotte: Die parlementêre portefeuljekomitee oor Kommunikasie en Digitale Tegnologieë het sy hartseer uitgespreek na die dood van EWN se mede- politieke redakteur, Tshidi Madia. Sy is gister na ʼn kort siekbed in die hospitaal oorlede. Die komiteevoorsitter, Khusela Sangoni Diko, sê Madia was een van die mees gerespekteerde stemme in Suid-Afrikaanse joernalisme en uiters professioneel. Sy sê Madia was bekend vir haar vermoë om met politieke figure oor die hele spektrum te kommunikeer en moeilike vrae te vra terwyl sy respekvol en professioneel bly.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….