Nuus 07:00
BULLETIN 26 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SA Toerismedienstevereniging kritiseer die ontbinding van die SA Toerismeraad
# Donald Trump sê hy het met Putin gepraat sedert verlede Maandag se gesprekke met Zelensky
# En krieket: Dane van Niekerk staan weer ’n kans vir ‘n plek in die SA Vrouewêreldbeker-groep
# Die Suid-Afrikaanse Toerismedienstevereniging sê die ontbinding van die Suid-Afrikaanse Toerismeraad ondermyn bestuur, bestendigheid en die bedryf se internasionale reputasie. Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, het die raad verlede week ná ‘n spesiale vergadering ontbind. Sy beweer ʼn onregmatige besluit is aanvaar, naamlik die uitvoerende hoof, Nombulelo Guliwe, se skorsing weens wangedrag. Die vereniging sê die minister se optrede ontbloot ʼn kommerwekkende en volgehoue patroon van oorskryding van ministeriële magte, inmenging en teenstrydighede.
# Rise Mzansi het kommer uitgespreek oor die toename in geweldsmisdaad in die land. Dit volg na noodlottige skietvoorvalle in Kaapstad en Mpumalanga, die dood van ‘n leerling na ‘n mesaanval in Gauteng, en die ontdekking van vyf liggame met skietwonde by ‘n myn in Noordwes. Makashule Gana van Rise Mzansi vra vir strenger optrede oor onwettige vuurwapens, beter misdaadintelligensie, en ’n hersiening van die polisie en die regstelsel:
# Sasol het by die Nasionale Energiereguleerder aansoek gedoen vir ‘n elektristeitshandelslisensie. Dit kom te midde van Nersa se finalisering van handelsreëls met Eskom wat lisensies betwis wat aan plaaslike handelaars toegestaan is. Die uitvoerende hoof van Sasol, Simon Baloyi, sê die lisensie sal aan Sasol plooibaarheid gee as beide ‘n groot aankoper en ook toekomstige belegger in hernubare produkte. Die groep het reeds ooreenkomste onderteken vir 920-megawatt wind- en sonkrag en mik na twee-duisend-megawatt teen 2030.
# Die DA sê Gautengse regeringsdepartemente skuld munisipaliteite meer as 1,8-miljard-rand, wat dienslewering verswak. Die DA-lid, Ruhan Robinson, sê munisipaliteite kan Eskom en Rand Water nie betaal nie, wat beteken inwoners worstel met kragonderbrekings, droë krane, slaggate in strate, swak sanitasie en ongereelde vullisverwydering. Robinson eis die dringende afdwinging van finansiële aanspreeklikheidswette om te verseker die skuld word betaal:
# President Donald Trump van Amerika sê hy het met sy Russiese ampsgenoot, Vladimir Putin, gepraat sedert verlede week se ontmoeting by die Withuis met president Volodymyr Zelensky van Oekraïne en ander Europese leiers. Rusland het verlede week 574 hommeltuie en 40 missiele op Oekraïne afgevuur in een van die ergste aanvalle in weke. Oekraïne het die naweek Russiese krag- en energie-instellings aangeval. Trump sê hy glo Putin wil die oorlog beëindig:
# Krieket: Suid-Afrika se voormalige kaptein, Dane van Niekerk, het haar internasionale uittrede eers opsy geskuif en is beskikbaar vir ʼn plek in die Vroue-wêreldbeker. Die 32-jarige speler wat die nasionale span in Maart 2023 verlaat het, is ingesluit by ʼn Protea-oefengroep van 20. Van Niekerk sê sy het besef hoe baie sy dit mis om die land te verteenwoordig. Sy sê sy is ten volle toegewyd om alles te doen om weer daardie geleentheid te hê. Die groep moet tot 15 verminder word vir die Wêreldbeker.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-875-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-377-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….