Nuus 07:00
BULLETIN 23 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hoof van Misdaadintelligensie word vrygespreek deur die polisie
# Die SASSA-hoof vra kalmte oor maatskaplike toelae-betalings
# En rugby: Die Bokke gaan staatmaak op ervaring om die Wallabies te stuit
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het die hoof van die polisie se Misdaadintelligensie-eenheid, Dumisani Khumalo, vrygespreek van alle oortredings ná ‘n interne ondersoek oor korrupsiebewerings. Khumalo en sy medebeskuldigdes staan tereg op aanklagte van bedrog en korrupsie oor die aanstelling van Dineo Mokwele in ‘n uitvoerende rol in 2024 sonder die regte kwalifikasies. Hy het Vrydag in die Hooggeregshof in Pretoria verskyn om versagting van sy borgtogvoorwaardes te vra, waarvolgens hy tans nie SAPD-intelligensiepersele mag besoek of sy pligte hervat nie. Die saak is weer op 8 September 2025 in die hof.
# Die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap, Themba Matlou, het ‘n beroep op die publiek en begunstigdes gedoen om kalm te bly te midde van die voortgesette besprekings tussen SASSA en die Posbank. Hy het die publiek gerusgestel dat maatskaplike toelaes steeds betyds betaal sal word en geen begunstigdes sal hul toelaes verloor nie. SASSA se woordvoerder, Andile Tshona, het die publiek versoek om nie paniekerig te raak nie en beklemtoon begunstigdes kan steeds kies by watter bank hulle toelaes wil ontvang:
# ActionSA verwelkom die Wes-Kaapse Hooggeregshof se verwerping van My Vote Counts se aansoek wat dele van die Wet op die Finansiering van Politieke Partye betwis. Die hof het beslis teen die poging om strenger openbaarmakingsvereistes op skenkings in te stel, nadat ActionSA aangevoer het dit sal meer onlangse politieke partye onregverdig beperk. Matthew George van ActionSA het sy verbintenis tot deursigtigheid en verantwoordbaarheid herbevestig en gesê die party het deurentyd befondsing verklaar, skoon oudits behaal en nie-nakoming deur ander partye teengestaan:
# Agente van die FBI het Vrydag die huis van Donald Trump se voormalige nasionale veiligheidsraadgewer, John Bolton, in Maryland deursoek as deel van ‘n nasionale veiligheidsondersoek na geklassifiseerde rekords. Die ondersoek fokus op moontlike lekkasies aan die media. Die FBI het hof-gemagtigde bedrywighede bevestig, maar gesê daar was geen openbare bedreiging nie. Dit is onduidelik of Bolton tuis was tydens die klopjag. Die ondersoek het na bewering onder die Biden-administrasie begin, maar het tot stilstand gekom voor sy termyn verstryk het.
# En sportnuus:
# Krieket: Môre se derde en laaste eendagwedstryd tussen Suid-Afrika en Australië in Mackay beïnvloed nie die reeks nie nadat Lungi Ngidi, Matthew Breetzke en Tristan Stubbs geskitter het in gister se tweede kragmeting op dieselfde veld. Die Proteas het die reeks beklink met ‘n oorwinning met 83 lopies nadat hulle in hul beurt uitgeboul is vir 277. Breetzke het 88 aangeteken en Stubbs 74. Speler-van-die-wedstryd Ngidi het daarna vyf paaltjies geneem en die gasheer help uitboul vir 193. Suid-Afrika het die eerste wedstryd in Cairns met 98 lopies gewen.
# En rugby: Die Springbokke sal staatmaak op hulle meer ervare spelers om die wedstryd te beheer wanneer hulle die Wallabies in die tweede ronde van die Rugbykampioenskap in Kaapstad aandurf. Die Bokke se hoofafrigter, Rassie Erasmus het tien veranderings vir vanmiddag se herontmoeting aangebring. Een van die belangrike veranderings is Handré Pollard wat Manie Libbok op losskakel vervang. Die losvoorspeler Jean-Luc du Preez kry vir die eerste keer in sewe jaar ‘n plek in die opdrafspan wanneer hy die beseerde Siya Kolisi op agsteman vervang.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….