Nuus 07:00
BULLETIN 7 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Mchunu sê luitenant-generaal Mkhwanazi se bewerings teen hom is ongegrond
# President Ramaphosa het ‘n rouperiode afgekondig ter ere van David Mabuza
# En die dodetal styg steeds na die oorstromings in Texas
# Die Polisieminister Senzo Mchunu verwerp KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se bewerings teen hom en sê dis ongegrond. Mkhwanazi beskuldig die minister dat hy inmeng by polisieondersoeke. Hy sê ook die minister het opdrag gegee dat die taakspan wat politieke moorde ondersoek, ontbind word nadat die span op ‘n dwelmkartel in Gauteng afgekom het waarby senior amptenare betrokke is. Mchunu sê Mkhwanazi se verklarings sal nagegaan en die regte stappe gedoen word:
# President Cyril Ramaphosa het aangekondig dat voormalige adjunkpresident, David Mabuza, Saterdag in Mpumalanga met ʼn Kategorie 2-staatsbegrafnis vereer sal word. Die 64-jarige Mabuza is verlede week na ʼn kort siekbed in Johannesburg dood. Die president het ook ʼn routydperk afgekondig wat van vandag tot Saterdagaand sal duur. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die landsvlag sal in hierdie tydperk landwyd halfstok hang:
# Die GOOD-party sê bendegeweld floreer in gemeenskappe wat deur die staat in die steek gelaat is, waar ekonomiese wanhoop, ruimtelike uitsluiting en maatskaplike verwaarlosing omstandighede skep vir misdaadnetwerke om te groei. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, het verwys na die skietvoorvalle oor die naweek, waartydens vyf mense in Mfuleni en Portlands in Kaapstad doodgeskiet is. Hy sê die feit dat kinders op Suid-Afrika se strate vermoor word, behoort dringende en verenigde optrede deur alle vlakke van regering te noodsaak:
# Die Stad Tshwane het begin om sy verhouding met die AmaNdebele ba Ndzundza– en AmaNdebele Ba Lebelo– tradisionele rade te formaliseer deur middel van ‘n Memorandum van Verstandhouding. Die memorandum sal ‘n georganiseerde benadering tot verhoudings met die stad moontlik maak, terwyl erkenning gegee word aan die mandaat en magte van tradisionele gemeenskappe. Die burgemeesterswoordvoerder, Zintle Mahlati, sê die tradisionele rade kon ook kwessies lug wat hul gemeenskappe raak:
# Reddingspogings gaan voort ná oorstromings Vrydag in die Texas Hill Country waarin minstens 81 mense dood is. Dit sluit minstens 28 kinders in die Kerr-distrik in waar tien meisies en een berader van Camp Mystic steeds vermis word. Meer as 800 mense is al gered. Texas-goewerneur Greg Abbott sê owerhede sal alles moontlik doen om seker te maak elke vermiste persoon word gevind. Nog reën word in die gebied verwag wat reddingspogings kan belemmer.
# Motorsport: Lando Norris van McLaren het die Britse Grand Prix gewen in sy eerste sege voor sy tuisskare. Sy spanmaat, Oscar Piastri, wat ʼn tien-sekonde-boete gekry het na omstredenheid met ʼn veiligheidsmotor, was tweede. Nico Hulkenberg van Sauber is derde. Hy het in die 19de plek weggespring en verskyn na 239 pogings die eerste keer op die Formule Een-podium. Lewis Hamilton was vierde in sy eerste wedren op Silverstone in ʼn Ferrari, en Red Bull se Max Verstappen vyfde. Norris het Piastri se voorsprong in die bestuurderskampioenskap tot agt punte verlaag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-61-sent teen die dollar, 20-rand-74-sent teen die euro en 24-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-96-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-317-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….