Nuus 07:00
BULLETIN 4 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa loof Mabuza vir sy toewyding aan bevryding
# Suid-Afrika se kragpryse het die afgelope twee dekades met duisend-persent gestyg
# En rugby: Die Junior Bokke is gereed vir ‘n taai stryd teen Engeland in die O.20-kampioenskap
# President Cyril Ramaphosa sê die voormalige adjunkpresident, David Mabuza verdien Suid-Afrika se waardering vir sy toewyding tot die bevrydingstryd en aan die nasie se ontwikkeling as ‘n inklusiewe, voorspoedige en demokratiese staat. Mabuza was 65 en is gister in ‘n hospitaal in Mpumalanga oorlede na ‘n kort siekbed. Die president se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê namens die regering en die nasie betuig Ramaphosa sy diepste meegevoel aan die oorlede adjunkpresident se vrou, Mama Mabuza, en hul kinders:
Rise Mzansi het hom intussen by Suid-Afrikaners aangesluit om hulde te bring aan Mabuza. Hy het van 2018 tot 2023 as adjunkpresident gedien. Hy was ook ‘n voormalige lid van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee en tussen 2009 en 2018 die premier van Mpumalanga. Die party se leier Songezo Zibi het sy innige meegevoel betuig en gesê ‘The Cat’ is weg:
# Elektrisiteitspryse in Suid-Afrika het sedert 2000 met meer as ‘n duisend-persent gestyg te midde van Eskom se dalende prestasie en toenemende skuld. In ‘n ekonomiese oorsig oor kragprysuitdagings, sê die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling dat tariewe laer as kosprys in die verlede Eskom verswak het, wat tot herhaalde reddingsboeie gelei het. In ‘n artikel deur die Daily Investor sê die organisasie langtermynoplossings sluit in die bevordering van mededinging, belegging in nuwe tegnologieë en die hervorming van tariefmodelle om nutsdiens-stabiliteit met verbruikersbeskerming te balanseer.
# Die Gemeenskapsveiligheidskomitee van die Gautengse Provinsiale Wetgewer sal met belanghebbendes in Fochville, Wes-Rand, vergader om polisie-nakoming van die Wet op Huishoudelike Geweld te bepaal. Dit vorm deel van ‘n toesigstudie wat ingrypingsprogramme, ingewortelde uitdagings en slagofferondersteuning ondersoek. Die komitee sal ook die Fochville-polisiestasie besoek om opgeleide personeel en rapporteringstelsels te evalueer, en kyk hoe ‘n beskermingsbevel hanteer word. Die stap het ten doel om beskerming vir slagoffers van huishoudelike geweld in Gauteng te versterk.
# Die eerste minister van Indië, Narendra Modim het sy planne uiteengesit vir sterker bande tussen sy land en Afrika, met Nieu-Delhi wat toenemend meeding met China en Rusland vir ‘n sterker ekonomiese teenwoordigheid op die vasteland. Hy het in ‘n toespraak in die Ghanese parlement beklemtoon dat ‘n groot spoorwegprojek wat laas jaar in Ghana geopen is, gefinansier is deur die Indiese Export-Import Bank. Modi se besoek is die eerste een deur ‘n Indiese leier aan Ghana in dertig jaar. China, Indië se mededinger, is steeds die belangrikste bydraer tot infrastruktuur reg oor die vasteland.
# Rugby: Die Junior Springbokke is oorgehaal vir ‘n taai stryd teen Engeland, die kampioenspan, in ‘n kritieke Groep-A-wedstryd in die Wêreldrugby Onder-20-kampioenskap vanaand in Rovigo, Italië. Die Junior Bokke is besig om momentum op te bou, met ‘n klinkende oorwinning van 73-17 oor Australië. Die afrigter Kevin Foote het Engeland se reputasie geprys en sê hy verwag ‘n opwindende stryd. Hy het vertroue in sy span uitgespreek en gesê hulle is goed voorbereid vir die taai stryd wat voorlê:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-50-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-587-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-331-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….