Nuus 07:00
BULLETIN 3 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Giwusa sê die brandstofprysverhogings is ‘n wrede slag vir die werkersklas
# AfriForum waarsku teen die totale ineenstorting van grensbeheer
# En die Weerdiens waarsku teen nog ‘n koue front en uiterste weerstoestande
# Die vakbond Giwusa veroordeel die brandstofprysverhogings en noem dit ‘n regstreekse aanval op die werkersklas en die armes. Drie-en-negentig-oktaan petrol het gister met 55-sent per liter gestyg, en 95-oktaan met 52-sent. Diesel het met 84-sent duurder geword en lampolie met 89-sent. Die vakbond sê dit is weens globale konflikte, oorbelasting deur die regering en mislukkings in die energiebeleid. Giwusa se woordvoerder, Mametlwe Sebei, waarsku dit sal tot hoër voedsel- en vervoerkoste lei, werksverliese veroorsaak en ongelykheid vererger:
# AfriForum sê grensbeheer in Suid-Afrika het in duie gestort en dit stel nasionale sekerheid en openbare veiligheid in gevaar. Die burgerregte-organisasie sê meer as 100 gesteelde voertuie is sedert April vanjaar na Mosambiek oor die Kosibaai-grens in KwaZulu-Natal gesmokkel en in Limpopo steek tot ses voertuie elke dag onwettig die grens na Zimbabwe oor. Jacques Broodryk van AfriForum sê belastingbetalers bestee daagliks meer as elf-miljoen-rand op die meer as 24-duisend ongedokumenteerde buitelanders wat in aanhouding is:
# ActionSA sê die openbare gesondheidsorgstelsel word oorweldig deur onwettige buitelanders wat toegangsregte misbruik. Hulle vra grondwetlike veranderings om gesondheidsorg vir onwettige buitelandse burgers te beperk en Suid-Afrikaanse burgers eerste te stel. Lerato Ngobeni van ActionSA sê dit is onaanvaarbaar dat sommige openbare klinieke meer as 70-persent van pasiënte as buitelandse burgers aanteken. Ngobeni eis dat die regering sy humanitêre pligte met die beskerming van burgers se regte balanseer:
# ’n Kuberkraker het toegang bekom tot ’n databasis met die persoonlike inligting van miljoene kliënte van Qantas-lugdiens in Australië. Qantas sê in ‘n verklaring die kuberkraker het ‘n inbelsentrum geteiken en toegang deur ‘n derdeparty-kliëntediensplatform bekom. Ses-miljoen name, e-posadresse, telefoonnommers, geboortedatums en frequent flyer-passasiersnommers is afgelaai. Die lugdiens sê hulle het verdagte aktiwiteit op die platform opgemerk en dadelik opgetree om dit te beperk. Hulle sê die kraker het nie toegang tot gereelde reisigers se rekeninge, wagwoorde, PIN-nommers of aanmeldbesonderhede bekom nie.
# Rugby: Die Junior Springbokke se hoofafrigter, Kevin Foote, het geringe veranderings aan sy span aangebring vir môre se Wêreldrugby Onder-20-kampioenskapskragmeting teen Engeland in Rovigo, Italië. Hy het vertroue getoon in die spelers wat Australië in hulle eerste wedstryd met 73-17 oorrompel het. Foote het die senter Gino Cupido in die beginspan ingesluit in die plek van Demitre Erasmus, wat siek is, en Erich Visser en Ian van der Merwe op die bank vervang met Ceano Everson en Dominic Malgas. Afskoptyd is sesuur.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-57-sent teen die dollar, 20-rand-75-sent teen die euro en 23-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-88-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-345-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-27-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku ‘n sterk kouefront sal ontwrigtende reën, sneeu en erge weerstoestande in verskeie streke veroorsaak. Die Wes- en Noord-Kaap kan swaar reën en oorstromings verwag, terwyl dit op die Drakensberge kan sneeu. Temperature sal na verwagting môre daal in die suidelike dele van Mpumalanga en die kwik kan vriespunt bereik in Johannesburg. Sterk wind veroorsaak intussen ‘n veldbrandgevaar in die Noord-Kaapse binneland. Suid-Afrikaners is gevra om versigtig te bly te midde van die uiterste weerstoestande.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….