Nuus 07:00
BULLETIN 1 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Numsa veroordeel die VSA en Israel se aanvalle op Iran
# Die Ondersoekdirektoraat is gereed om geregtigheid te laat seëvier in staatskapingsake
# En tennis: Sabalenka is deur na die tweede ronde by Wimbledon, maar Medvedev is nie so gelukkig nie
# Die metaalwerkersvakbond Numsa veroordeel die VSA en Israel ten sterkste oor hulle rol in die onlangse militêre aanvalle op Iran. Die vakbond sê Amerika se onlangse bombardement op Iran se kernaanlegte is deur Israel se ongevraagde aanvalle ontketen, wat deur die VSA met wapens en militêre tegnologie ondersteun is. Numsa se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, vra sanksies teen Israel en verwerp Amerika se rol as vredemaker:
# Die Teenkorrupsie-ondersoekdirektoraat het belowe om die stryd teen staatskapingskorrupsie voort te sit na vier voormalige Transnet-bestuurders borgtog van 50-duisend-rand elk deur die Palm Ridge Handelsmisdaadhof toegestaan is. Brian Molefe, Anoj Singh, Siyabonga Gama en Thamsanqa Jiyane staan tereg op 18 aanklagte, insluitend korrupsie. Henry Mamothame van die direktoraat sê die saak hou verband met ‘n lokomotieftender van miljoene rand wat na bewering onreëlmatig aan ‘n Chinese firma toegeken is:
# Die DA sê Tshwane het 130-miljoen-rand se inkomste uit elektrisiteit in April verloor as gevolg van langdurige onderbrekings wat vererger is deur ’n beleid wat noodherstelwerk buite gewone ure verbied. Die DA se woordvoerder vir Finansies, Jacqui Uys, gee swak vakmanskap en die besluite van die ANC-geleide koalisie die skuld vir toenemende kragonderbrekings in die ooste van Pretoria. Sy dring aan op beter oortydbestuur gedurende noodgevalle ná beplande onderhoud:
# Absa in Mauritius beplan om die befondsing vir groen projekte teen 2030 byna te verviervoudig om die eiland-nasie se doelwitte vir die vermindering van uitstralings te ondersteun. Moneyweb berig die eenheid van die Absa Groep, wat volgens bates die derde grootste bank in Suid-Afrika is, wil groen lenings tot 6,2-miljard-rand verhoog vanaf 1,65-miljard-rand aan die einde van verlede jaar. Mauritius het ‘n uitdagende teiken gestel om teen 2030 kweekhuisgasuitstralings met 40-persent te verminder om aardverwarming te beperk. Toenemende gevalle van oorstromings, droogte en koraalbleiking bedreig die seelewe sowel as die noodsaaklike toerismebedryf.
# ‘n Man van 92 is skuldig bevind aan die verkragting en moord op ʼn vrou wat 133 jaar gelede gebore is. Dit is vermoedelik die Verenigde Koninkryk se oudste onopgeloste saak wat in die hof beland. Ryland Headley is skuldig bevind dat hy die 75-jarige Louisa Dunne in Junie 1967 in haar huis vermoor het. Met die jongste DNS-tegnologie en palmafdrukke wat meer as 57 jaar gelede op die toneel gevind is, is Headley op albei aanklagte skuldig bevind. Hy is in November 2024 gearresteer en die polisie ondersoek nou of hy met ander onopgeloste misdade verbind kan word.
# Tennis: Die nommer-een-gekeurde Aryna Sabalenka het gemaklik deurgedring na die tweede rondte van Wimbledon, met ‘n 6-1, 7-5 oorwinning teen Kanadese kwalifiseerder Carson Branstine. Die 27-jarige van Belarus is ‘n driemalige Grand Slam kampioen maar het nog nooit verder gevorder as die halfeindstryd by Wimbledon nie. Sy het in die eindstryd van beide die Australiese Ope en die Franse Ope hierdie jaar verloor. Intussen het die voormalige VSA Ope-kampioen, Daniil Medvedev, ‘n skok-nederlaag in vier stelle in die eerste rondte teen Benjamin Bonzi van Frankryk gely.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-85-sent teen die euro en 24-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-379-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-319-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….