Nuus 07:00
BULLETIN 30 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Mchunu sê die polisie is nie bewus van die dreigende inhegtenisneming van kommissaris Masemola nie
# Gauteng Gesondheid ontken berigte van ’n lykshuisagterstand by die Helen Joseph-hospitaal
# En krieket: Die Proteas neem beheer op die tweede dag van die eerste toets teen Zimbabwe
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het met kommer kennis geneem van mediaberigte oor die moontlike inhegtenisneming van die polisie se nasionale kommissaris, Fannie Masemola. Die ministerie se woordvoerder, Kamogelo Mogotsi, sê die Polisiedepartement is nie bewus van Masemola se moontlike arrestasie nie. Sy sê hulle neem ook kennis van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie se reaksie op die bespiegeling:
# Die Young Intelligent Minds of South Africa het die ANC en DA gekasty omdat hulle die land soos ‘n Tom and Jerry – tekenprent regeer. Die groep sê die twee partye verstaan nie die verantwoordelikhede en die grondwetlike magte van die regering van nasionale eenheid nie. Hy kritiseer die DA se onttrekking uit die Nasionale Dialoog as politieke teater en doen ‘n beroep vir ‘n vroeë verkiesing. Die jeugorganisasie sê Suid-Afrikaners verdien ‘n bestendige en meerderheid-geleide regering, en nie die chaos en eiebelang wat nou te sien is nie.
# Die DA in Gauteng is bekommerd omdat die Helen Joseph-hospitaal na bewering vir 13 dae versuim het om afgestorwe pasiënte na regeringslykshuise oor te plaas weens ‘n gebrek aan drukker-inkhouers. Madeleine Hicklin van die DA blameer die provinsiale LUR vir Gesondheid, Nomanto Nkomo-Ralehoko, vir die administratiewe mislukking en sê dit het nadoodse ondersoeke en begrafnisreëlings vertraag. Sy doen ‘n beroep op dringende ingryping en sê families kry onnodig swaar weens die departement se onbevoegdheid:
Die Gautengse Departement van Gesondheid het intussen die DA se bewerings ontken oor die Helen Joseph-hospitaal. Die departement sê slegs een liggaam, wat by aankoms op 25 Junie dood verklaar is, is na ‘n KwaZulu-Natalse gesin opgespoor. Vertragings tussen 17 en 23 Junie is teen 24 Junie opgelos. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, het bevestig geen uitstaande gevalle wag op verwerking nie:
# Die Britse polisie sê hulle ondersoek opmerkings wat die rap punk-duo Bob Vylan by die Glastonbury-fees gemaak het. Die kletsrymer Bobby Vylan het Saterdag op die fees se derde grootste West Holts-verhoog geskree “Free, free Palestine”, voor hulle die skare voorgegaan het in dreunsang teen die Israelse weermag. Die Israelse Ambassade in die Verenigde Koninkryk sê hy is diep ontsteld oor die voorval. Hy sê die kletsrymer se opmerkings wek ernstige kommer oor die normalisering van ekstremistiese taal en verheerliking van geweld. Glastonbury-fees sê in ‘n verklaring hy is geskok oor Vylan se opmerkings.
Krieket: Ten spyte van Sean Williams van Zimbabwe se onoorwonne 114, het skitterende boulwerk deur Wiaan Mulder, Cody Yusuf en Keshav Maharaj die Proteas gister ʼn voorsprong gegee op die tweede dag van die eerste toets by die Queens-sportklub in Bulawayo. Suid-Afrika het hul eerste beurt op 418 vir nege gesluit verklaar. Teen teetyd het die gashere 212 vir ses gehad en kort daarna was almal uit op 251. Die Proteas was teen uitskeityd op dag twee in beheer met 49 vir een na 13 boulbeurte. Hulle begin dag drie met ʼn voorsprong 216.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-86-sent teen die euro en 24-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-781-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-272-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….