Nuus 07:00
BULLETIN 27 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party sê die afdanking van Andrew Whitfield bewys die regering van nasionale eenheid werk nie
# Die Nasionale Vergadering aanvaar die Wet op die Verdeling van Inkomste
# En die Wêreldgesondheidsorganisasie lewer sy eerste mediese hulp aan Gaza sedert Maart
# Die MK-party sê die afdanking van die adjunkminister van Handel en Nywerheid, Andrew Whitfield, beklemtoon gebreke in die regering van nasionale eenheid. Sy afdanking hou glo verband met growwe ongehoorsaamheid oor ‘n DA-geleide reis na Washington wat sonder president Ramaphosa se goedkeuring plaasgevind het. Die MK-party sê die RNE wat onder die dekmantel van eenheid gevorm is, is ʼn politieke eksperiment wat voorkeur gee aan toegewings aan die elite bo die werkersklas en armes se belange.
# Die Nasionale Vergadering het die Staande Komitee oor Begrotings se verslag oor die Wetsontwerp op die Verdeling van Inkomste aanvaar. Dis ʼn belangrike stap in die nasionale begrotingsproses vir die 2025/2026-boekjaar. Die wetsontwerp gee uitvoering aan die finansiële raamwerk wat in die 2025-begroting uiteengesit is, en ken inkomste wat nasionaal ingevorder is, toe aan drie vlakke van regering. Die komiteevoorsitter, Mmusi Maimane, sê die verdeling van inkomste wat nasionaal ingevorder is, balanseer nasionale prioriteite en die fiskale werklikhede wat provinsiale en plaaslike regerings ervaar:
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sal vandag afgevaardigdes toespreek op die G20 se provinsiale Onderwys-indaba in die Birchwood Hotel in Boksburg. Die Gautengse Onderwysdepartement bied die indaba aan en die LUR vir Onderwys, Matome Chiloame, sal by die minister aansluit. Woordvoerder Terence Khala sê die byeenkoms is een van nege provinsiale geleenthede wat gekoppel is aan Suid-Afrika se G20-program:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê hy kon sy eerste mediese besending in byna vier maande in Gaza aflewer. Nege vragmotors met noodsaaklike mediese voorraad het Woensdag die gebied vanuit Kerem Shalom in suidelike Israel binnegegaan. Dit volg terwyl Gaza se gesondheidstelsel byna ineengestort het. Die WGO se direkteur-generaal, Tedros Adhanom Ghebreyesus, sê hulle doen ʼn beroep dat mediese hulp aan Gaza langs alle roetes onmiddellik, onbelemmerd en gereeld afgelewer word.
# Tennis: Die Tsjeg Barbora Krejcikova se verdediging van haar Wimbledon-titel hang moontlik in die weegskaal nadat ‘n dyspier-besering haar uit die Eastbourne Ope in Engeland gedwing het. Sy het onttrek voor haar kwarteindstryd teen Varvara Gracheva van Frankryk. Krejcikova is veronderstel om Dinsdag haar eerste wedstryd op Wimbledon te speel. Die 29-jarige, wat haar ander Grand Slam-titel in 2021 op die Franse Ope gewen het, kon vanjaar nog net ses wedstryde speel weens ‘n rugbesering. Die voormalige nommer twee is nou 17de op die wêreldranglys.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-88-sent teen die euro en 24-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-49-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-317-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-86-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa het voormalige hoofregter Raymond Zondo gelukgewens nadat hy deur die Wêreldgeregtigheidsprojek vereer is. Hy het die gesogte Oppergesag van die Reg-toekenning ontvang om erkenning te gee aan sy onversetlike toewyding aan geregtigheid en aanspreeklikheid deur sy leierskap in die Staatskapingskommissie. Ramaphosa sê die regering sal regter Zondo vereer deur voort te gaan om op te tree volgens sy aanbevelings wat hy drie jaar gelede ingedien het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….