Nuus 07:00
BULLETIN 9 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Internasionale Monetêre Fonds sê Suid-Afrika se ekonomiese groei sal bestendig bly
# Peet Viljoen wil die Nasionale Vervolgingsgesag vir 500-miljoen-rand dagvaar
# En Donald Trump sê Iran se leiers is ‘van lotjie getik’
# Die Internasionale Monetêre Fonds sê Suid-Afrika se groeivooruitsig sal waarskynlik bestendig bly en verbeter te midde van versterkte beleidsraamwerke en voortgesette strukturele hervorming. Die IMF verwag die land se ekonomiese groei sal vanjaar op 1,1-persent dieselfde wees as in 2025. Dit bly egter laer as die Suid-Afrikaanse Reserwebank se skatting van 1,2-persent. Die IMF het sy globale groeivooruitsig van 3,1-persent tot drie-persent verlaag en sê die wêreldekonomie toon veerkragtigheid.
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê langdurige swak plekke in die openbare gesondheidstelsel moet dringend aangespreek word. Dit volg nadat die Gesondheidsombud bevind het die dood van ses gesondheidswerkers by mediese instellings in KwaZulu-Natal was nie die gevolg van swak werksomstandighede of afknouery en viktimisasie in die werkplek nie. Die ondersoek het wel aansienlike sistemiese probleme geïdentifiseer wat mediese beroepslui raak. Motsoaledi sê besnoeiings dra grootliks by tot probleme wat gesondheidswerkers se welstand betref:
# Die prokureur, Peet Viljoen, wat van die rol geskrap is, sê hy gaan die Nasionale Vervolgingsgesag vir 500-miljoen-rand dagvaar weens onregmatige vervolging. Hy staar minstens 400 aanklagte in die gesig, insluitend bedrog, korrupsie en diefstal wat verband hou met die vermeende bedrieglike verkope van 46 eiendomme van die Johannesburg Eiendom-maatskappy. Viljoen het gister aan die Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof in Pretoria gesê die staat se saak is swak en vol foute. Hy sê sy optrede is nie dié van iemand wat die reg probeer ontduik nie. Viljoen se saak is tot die 23ste uitgestel.
# Die DA in Gauteng sê honderde leerders by die Ezibeleni Skool vir Leerders met Spesiale Onderwysbehoeftes in Katlehong woon steeds klasse by op onveilige dolomitiese grond, ten spyte van jare se waarskuwings. Die party doen ‘n beroep op die Provinsiale Onderwysdepartement om die skool dringend te skuif. Bronwynn Engelbrecht van die DA sê geboue wat deurlopend verswak, met sinkgatrisiko’s en vakante poste vir ondersteuningspersoneel plaas kwesbare leerders in gevaar:
# President Donald Trump van Amerika dreig met nog aanvalle op Iran en waarsku dat noodsaaklike burgerlike infrastruktuur geteiken kan word. Amerika se Sentrale Bevel het bevestig dat die weermag Dinsdagnag meer as 80 teikens getref het. Dit sluit meer as 60 klein bote van die Islamitiese Rewolusionêre Wagkorps in die Straat van Hormoes in. In reaksie het Iran Amerikaanse militêre terreine in Bahrein en Koeweit aangeval. Trump, wat ook dreig om weer Iranse hawens te blokkeer, sê Iran is “nie meer die boelie” van die Midde-Ooste nie:
# Sokker: Die Bafana Bafana-ster Mbekezeli Mbokazi se agent waarsku klubs wat hom ná sy goeie vertoning by die Wêreldbekertoernooi wil koop, sal beter kontrakaanbiedinge moet maak. Basia Michaels sê die 20-jarige Mbokazi behoort twee tot vyf keer meer te verdien as die 49-miljoen rand wat Chicago Fire verlede jaar vir hom betaal het. Die Amerikaanse klub is bereid om die verdediger aan Europese klubs te verkoop. ‘n Belgiese span het glo weer belangstelling in Mbokazi getoon nadat hulle ‘n jaar gelede geweier het om die bedrag wat Orlando Pirates bepaal het, te aanvaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-306-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-70-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….