Nuus 07:00
BULLETIN 12 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# DIRCO sê diplomatieke betrekkinge met Israel is tans gespanne
# Krieket: Heinrich Klaasen lei die Durban’s Super Giants na ‘n oorwinning
# En, Taylor Swift en die Barbie-film word benoem vir People’s Choice Awards
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking se direkteur-generaal, Zane Dangor, sê diplomatieke betrekkinge tussen Suid-Afrika en Israel bly gespanne. Suid-Afrika het gister sy saak van volksmoord teen Israel by die Internasionale Geregshof in Den Haag in Nederland voorgelê. Suid-Afrika se regspan het aangevoer dat Israel se lug- en grondaanvalle op Gaza bedoel was om die vernietiging van sy Palestynse bevolking te bewerkstellig, wat ‘n aanduiding is van ‘n volksmoordvoorneme. Dangor sê die twee lande sal beter met mekaar skakel na hierdie hofsaak:
Intussen glo die GOOD-party ‘n simboliese oorwinning in Den Haag sal nie alleen die lyding van die Palestynse mense verlig nie. Die party sê nasies, insluitende die supermoondhede, moet verseker die hof se reëls vir onmiddellike verligting word toegepas. Woordvoerder Brett Herron sê indien die Verenigde Nasies misluk in sy pogings om die hof se beslissings af te dwing of nie geregtigheid kan verseker nie, moet dit struktureel hervorm word. Hy sê hoewel ʼn hofbevel moreel en wetlik druk op Israel sal plaas, moet daar onmiddellik opgetree word teen enige verbreking.
# Die Mededingingskommissie dreig om skole te vervolg wat nie voldoen aan die jongste riglyne vir die aanskaf van skooluniforms nie. Dit volg terwyl nog ouers beswaar aanteken oor die stygende koste van skoolklere, wat hulle dwing om hulle hande dieper in hulle sakke te steek. ʼn Woordvoerder van die kommissie, Siya Makunga, sê hulle het sedert die begin van 2022 tot 220 klagtes ontvang wat verband hou met skoolklere:
# ‘n Gautengse man wat van moord op sy ouers en suster aangekla word, bly agter tralies nadat hy sy borgtog-aansoek laat vaar het in die Germistonse Landdroshof. Eugene Botha is in hegtenis geneem kort nadat die liggame van Johan, Soné en Rikki Botha op Oujaarsdag naby hulle huis in Rondebult gevind is. Die bure het vroeër die dag ‘n rusie gehoor, gevolg deur drie skote later die aand. Die hof sal besluit oor die media se aansoek om foto’s van Botha in die beskuldigdebank te neem wanneer hy volgende week weer voorkom.
# Krieket: Heinrich Klaasen het Durban’s Super Giants tot ʼn oorwinning van 11 lopies oor MI Cape Town gelei, in hulle openingswedstryd van die tweede SA20-seisoen op Kingsmead in Durban. Ryan Rickelton het 87 lopies van 51 balle behaal en gehelp om MI Cape Town tot 207 vir vyf te neem in hulle 20 boulbeurte. Klaasen was egter nog meer meedoënloos en het 85 van net 35 balle gemoker. Die Super Giants was ná 16 boulbeurte en drie balle op 177 vir ses toe die wedstryd weens reën gestaak is, met die tuisspan wat volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode met elf lopies gewen het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-59-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 46-duisend-106-dollar-3-sent. Die prys van goud is twee-duisend-33-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-85-sent per vat.
# En ten slotte, Barbie het nege en daarmee die meeste fliek-benoemings ontvang vir die People’s Choice Awards. Dit sluit Rolprent van die Jaar in. Oppenheimer spog met ses benoemings. In die TV-kategorieë loop Only Murders in the Building voor met sewe, gevolg deur Ted Lasso, The Morning Show en The Last of Us met ses elk. In die musiek-kategorieë is Taylor Swift, Luke Combs, Nicki Minaj en Morgan Wallen elk vyf keer benoem. Die akteur Simu Liu sal die toekenningsgeleentheid op die 18de van volgende maand in die Barker Hangar in Santa Monica aanbied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….