Nuus 07:00
BULLETIN 26 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê gelyke aandeelhouding is die sleutel tot ekonomiese transformasie
# Drie senior Gautengse amptenare word afgedank omdat hulle nie hul leefstyloudits slaag nie
# En krieket: Die Protea-mans en -vroue sal volgende jaar gelyktydige T20’s in Nieu-Seeland speel
# President Cyril Ramaphosa het die regering se verbintenis tot inklusiewe ekonomiese groei en transformasie beklemtoon. Hy het in ‘n toespraak voor die Nasionale Raad van Provinsies, die program vir gelyke aandeelhouding uitgelig as ’n innoverende oplossing vir buitelandse maatskappye wat nie aan plaaslike eienaarskapsteikens kan voldoen nie. Ramaphosa sê die model stel oorsese maatskappye in staat om betekenisvol tot transformasie en regstelling by te dra. Hy het gewaarsku transformasie is nie onderhandelbaar nie en noodsaaklik vir nasionale vooruitgang:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientso Ramokgopa, sê daar is geen stawende bewyse vir bewerings van botsende belange tussen Eskom en Mulilo Energy se batterybergingsooreenkoms van 9,5-miljard-rand nie. Die maatskappyvoorsitter is Eskom se voormalige hoofbedryfsbeampte, Jan Oberholzer. Ramokgopa het gister gereageer op vrae in die Nasionale Vergadering en sê Mulilo Energy het voldoen aan die vereiste van openbare bekendmaking en voeg by die kragverskaffer het met die nodige omsigtigheid die Mulilo-ooreenkoms gesluit.
# Gauteng se premier Panyaza Lesufi sê hulle is verbind om seker te maak provinsiale departemente word gelei deur geloofwaardige mense. Hy het drie departementshoofde afgedank wat nie ‘n reeks leefstyloudits kon slaag nie en deur die Spesiale Ondersoekeenheid as hoë risiko verklaar is. Volgens die integriteit- en teenkorrupsie-verslag het 37-persent senior provinsiale regeringsamptenare nie hul leefstyloudits geslaag nie. Lesufi sê hulle gaan die fondse van werknemers herwin:
# Die Oekraïnse president Volodymyr Zelensky beskryf sy ontmoeting met president Donald Trump as positief. Die twee leiers het bilaterale gesprekke gevoer by die NAVO-beraad in Nederland. Zelensky sê hulle het belangrike kwessies bespreek soos ʼn ooreenkoms vir ʼn skietstilstand en ware vrede, en die aankoop van Amerikaanse lugverdedigingstelsels. Hy het bygevoeg hy is dankbaar vir Amerika se voortgesette ondersteuning. Trump het intussen toegegee om vrede tussen Rusland en Oekraïne te bewerkstellig, is moeiliker as wat mense gedink het.
# Krieket: Die Protea mans- en vrouespanne sal in Maart volgende jaar gelyktydig meeding in Nieu-Seeland. Die mans sal teen die Swartpette speel in ‘n T20-reeks van vyf wedstryde en die vrouespan pak die White Ferns op dieselfde dae en dieselfde stadions. Die wedstryde vind plaas in Mount Maunganui, Hamilton, Auckland, Wellington en Christchurch. Krieket Suid-Afrika se direkteur van nasionale spanne, Enoch Nkwe, beskryf die dubbele reeks as ‘n opwindende stap vir Suid-Afrika se verhouding met Krieket Nieu-Seeland.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-67-sent teen die euro en 24-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-508-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-331-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-63-sent per vat.
# En ten slotte: Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling en die Departement van Sport, Kuns en Kultuur, bied vandag ‘n nasionale dialoog by Vryheidspark in Pretoria aan ter viering van die 70ste herdenking van die Vryheidsmanifes. Die tema is, From Charter to Constitution – Bridging Generations, en sluit jeuggeleide paneelbesprekings en ‘n grondwetlike belofte in. Die verrigtinge word gehou om mense te laat besin oor die nalatenskap van die Manifes en sy rol in die vorming van Suid-Afrika se inklusiewe demokratiese samelewing.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….