Nuus 07:00
BULLETIN 25 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkminister van Finansies sê die Wêreldbank-lening sal nie Suid-Afrika se soewereiniteit ondermyn nie
# Die burgemeester van Johannesburg sê die ANC-koalisie het die getalle om die mosie van wantroue in hom te verslaan
# En die hoof van die VN-kernwaghond dring daarop aan dat Iran samewerking voortsit
# Die adjunkminister van Finansies, David Masondo, het die lening van 27-miljard-rand van die Wêreldbank verdedig en gesê dit stem ooreen met die Nasionale Tesourie se verbintenis tot verantwoordelike en volhoubare lenings. Die lening sal dringend nodige strukturele hervormings in die land se infrastruktuursektore ondersteun, met spesifieke fokus op energie en vragvervoer. Masondo het tydens die vergadering van leidende ouditinstellings in Johannesburg die land verseker dat lenings op sigself nie sleg is nie:
# Die EFF is bekommerd oor die toenemende tendens van lenings in buitelandse geldeenhede, veral wanneer daar voldoende likiditeit in die plaaslike finansiële mark is. Dit volg na die regering ‘n leningsooreenkoms van 27-miljard-rand met die Wêreldbank gesluit het om besteding op infrastruktuur ‘n hupstoot te gee en strukturele hervormings te steun. Die EFF sê Suid-Afrika se skulddelgingskoste het tot meer as 426-miljard-rand per jaar gestyg, maar die Nasionale Tesourie het misluk om te verseker die skuld lei na werkskepping of openbare infrastruktuurvoordele. Hy sê die lenings blyk polities gemotiveerd te wees.
# Die jeugafdeling van die Kamer van Koophandel en Nywerheid het alarm gemaak oor wat hulle noem ‘n nasionale ineenstorting as gevolg van jeugwerkloosheid. Die uitvoerende hoof, Denise Rapitsi, sê meer as die helfte van die jeug in Suid-Afrika is werkloos en talle ly aan depressie, is arm terwyl die selfdoodsyfers toeneem. Rapitsi het bygevoeg die kamer stel ‘n nasionale aksieplan bekend om die krisis aan te pak deur werkskepping, ondernemers-ondersteuning en geestesgesondheidsdienste.
# Die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero, sê hy is vol vertroue die wantrouemosie wat vandag teen hom in die raad ingedien word, sal misluk. Die DA het mosies teen die burgemeester en hoofsweep, Sithembiso Zungu, ingedien, met verwysing na voortdurende uitdagings met dienslewering. Morero sê die ANC-geleide koalisie het die stemme om die mosie te verslaan en bly verenig. Die burgemeester sê die opposisie vertolk wettige prosesse verkeerd om politieke munt daar uit te slaan.
# Die hoof van die Verenigde Nasies se Internasionale Atoomenergie-agentskap, Rafael Grossi, sê die wapenstilstand tussen Iran en Israel sal hopelik die deur open vir hernieude samewerking oor Iran se kernprogram. Agentskapinspekteurs het dwarsdeur die konflik in Iran gebly. Grossi sê daar was uitgebreide skade by verskeie kernterreine in Iran, insluitend sy uraanomskakelings- en verrykingsfasiliteite. Hy sê Iran moet die IAEA toelaat om die kernaanlegte te inspekteer en rekenskap te gee van die uraanvoorrade:
# Fietsry: Die tweemalige Tour de France-wenner Jonas Vingegaard, sal Visma-Lease-a-Bike vir hierdie jaar se toer aanvoer. Die 28-jarige Deen het die toer in 2022 en 2023 gewen, met die veelsydige Wout van Aert wat by hom aansluit om Tadej Pogacar te probeer onttroon. Die res van die span bestaan uit Matteo Jorgenson, Simon Yates, Sepp Kuss, Tiesj Benoot, Victor Campenaerts en Edoardo Affini. Vanjaar se Tour de France begin op 5 Julie in Lille en eindig op 27 Julie in Parys.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-61-sent teen die euro en 24-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-244-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-330-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….