Nuus 07:00
BULLETIN 23 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Iran se ministerie van Buitelandse Sake waarsku dat die VSA verantwoordelikheid moet dra vir die gevolge van die oorlog
# Julius Malema sê Iran moet beskerm word teen die “afknouery” deur die VSA en sy bondgenote
# En tennis: Alcaraz wen ’n tweede Queens-titel, terwyl Bublik seëvier by die Halle Ope
# Iran se Ministerie van Buitelandse Sake waarsku Israel en Amerika se aanvalle laat die Midde-Ooste in ‘n gevaarlike posisie. Amerika beweer hy het Iran se kernprogram vernietig nadat hy die naweek drie terreine aangeval het. Die ministerie vra dat die Verenigde Nasies, die VN-Veiligheidsraad en ander liggame soos die Internasionale Atoomenergie-agentskap ingryp. Die woordvoerder van Iran se Buitelandse Ministerie, Esmail Baghaei, het aan CNN gesê die land mag sy reg op selfverdediging uitvoer:
Die EFF-leier Julius Malema sê intussen sy party staan by Iran, ʼn land volgens hom onder beleg deur Westerse imperialisme omdat hy onafhanklikheid gekies het. Hy het Sondag by die begrafnis van sewe van die tien EFF-lede wat in ʼn busongeluk dood is, in Vryheid, KwaZulu-Natal, gepraat. Malema sê Iran moet beskerm word:
# Die Konstruksie Onderwys- en Opleidingsowerheid, CETA, ontken bewerings van tender-onreëlmatighede en dat raadbenoemings gemanipuleer word. Volgens berigte is die uitvoerende hoof, Malusi Shezi, hierby betrokke. Die Sunday Times berig dokumente van die gewese CETA-werknemer en fluitjieblaser, Tumiso Mphuthi, toon na bewering dat tenders van miljoene rand aan maatskappye toegeken is sonder dat hulle gebie het. Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Nkabane, word beskuldig dat sy die korrupsiebewerings ignoreer. CETA sê hy het alle bewerings van onreëlmatighede ondersoek en opgetree deur talle amptenare aan gevolgebestuur te onderwerp.
# Die Departement van Werkskepping en Arbeid sê administratiewe afwykings en ‘n poging tot bedrog deur die vennote van die Arbeidsaktiveringsprogram het toelaagbetalings vir deelnemers aan die indiensnemingsprogram vertraag. Die departementele woordvoerder, Teboho Thejane, sê ‘n oorsig deur die Werkloosheidsversekeringsfonds het geleenthede vir verbeterde administratiewe akkuraatheid uitgelig. Hy sê die WVF versterk sy hersieningsproses vir fakture en bywoningsrekords wat deur vennootmaatskappye ingedien word. Dit sal na verwagting algehele doeltreffendheid verbeter:
# ActionSA sê hulle gaan vandag ‘n intensiewe landwye veldtog in Alexandra, Johannesburg, bekendstel, vir die herstel van plaaslike regering in Suid-Afrika. Die party sê die bekendstelling sal plaasvind in ‘n gemeenskap wat, soos baie ander regoor Suid-Afrika, verwaarloos en agtergelaat is. Zwelithini Mtshali van ActionSA sê in die komende maande sal hulle dié veldtog regstreeks na munisipaliteite regoor die land neem:
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee Carlos Alcaraz het die Tsjeg, Jiri Lehecka, verslaan om sy tweede Queen’s Club-titel in Londen op te raap. Die 22-jarige Spanjaard spog nou met sy vyfde titel van die seisoen en 21ste van sy loopbaan. In Duitsland het Alexander Bublik van Kasakstan met die Rus, Daniil Medvedev, afgereken en die Halle Ope die tweede keer gewen. Die 27-jarige Bublik is slegs die vierde speler in die toernooi se geskiedenis van 32 jaar wat die titel meer as een keer kon wen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-8-sent teen die dollar, 20-rand-76-sent teen die euro en 24-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 100-duisend-764-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-355-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….