Nuus 07:00
BULLETIN 21 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa waarsku teen die wêreldwye gevolge van die konflik tussen Israel en Iran
# Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat sukkel om sy ondersoek-agterstand in te haal te midde van ‘n tekort aan ondersoekers
# En Eskom sê die kragstelsel bly bestendig
# President Cyril Ramaphosa sê die toenemende konflik tussen Israel en Iran veroorsaak wêreldwye verwoesting, insluitend stygende brandstofpryse, ekonomiese onbestendigheid en lewensverlies. Ramaphosa waarsku die wêreld het ‘n gevaarliker plek geword as gevolg van die spanning wat aanhou toeneem. Hy versoek beide lande om die aanvalle te staak en hul verskille op te los, en sê vrede is al manier om ‘n groter krisis te voorkom:
Die Turkse president, Recep Tayyip Erdogan, sê intussen die toenemende konflik is byna by die keerpunt verby. Die konflik het ‘n week gelede losgebars toe Israel ‘n reeks aanvalle teen sy aartsvyand van stapel gestuur het, wat onmiddellik gelei het tot wraakaanvalle deur Teheran. Erdogan sê dis noodsaaklik dat vingers van die snellers en knoppies verwyder word voor nog meer verwoesting, bloedvergieting, burgerlike ongevalle en ernstige rampe die streek, Europa én Asië nog vir jare kan beïnvloed.
# Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat het ‘n ernstige agterstand van meer as 15-duisend onopgeloste sake. Met meer as vyf-duisend klagtes binne twee jaar was daar ‘n toename in oproepe vir vinnige, deursigtige verantwoordbaarheid namate die publiek se vertroue in wetstoepassing verminder. OPOD se woordvoerder, Lizzy Suping, het aan SABC News gesê slegs 168 ondersoekbeamptes is landswyd beskikbaar en afgetrede speurders word nou gewerf om te help:
# Eskom sê die kragstelsel bly bestendig en veerkragtig ten spyte van die verhoogde vraag na krag. Eskom-woordvoerder, Daphne Mokwena, sê voldoende noodreserwes is beskikbaar en word strategies aangewend om aan die vraag gedurende oggend- en aandspitstye te voldoen. Sy sê om die netwerkbestendigheid verder te verbeter, beplan die kragverskaffer om ‘n totaal van tweeduisend-730-megawatt se opwekkingsvermoë voor Maandagaand se spitstyd te herstel:
# Die voormalige Zambiese president, Edgar Lungu, sal in Suid-Afrika begrawe word ná ‘n geskil tussen sy gesin en die Zambiese regering. Lungu is vroeër hierdie maand in ‘n Suid-Afrikaanse hospitaal dood en die repatriasie van sy oorskot na Zambië is Donderdag gestaak. Die gesin se regsverteenwoordiger Makebi Zulu, sê Lungu se familie is gekant teen president Hakainde Hichilema se bywoning van die begrafnis, wat ooreenstem met hul wense vir ‘n privaat seremonie. Hichilema het Donderdag in ‘n televisie-toespraak die 16 dae van rou wat vroeër afgekondig is, gekanselleer. Hy sê die land kan nie onbepaald treur nie.
# En sokker: Volgende week se kwalifiseerders vir die Asiese Bekertoernooi vir vroue wat in Jordanië gespeel sou word, sal nou volgende maand in Katar plaasvind. Die herskedulering en verskuiwing is genoodsaak deur die konflik tussen Israel en Iran wat tot die sluiting van lugruime gelei het. Die ander kwalifiseerders sal soos beplan voortgaan en die loting vir die eindronde sal einde volgende maand gedoen word. Twaalf spanne sal aan die toernooi deelneem wat in Maart volgende jaar in Australië gespeel sal word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….