Nuus 07:00
BULLETIN 19 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Advokaat Shamila Batohi sê Omotoso kan steeds verhoor word
# Floyd Shivambu gaan vandag ‘n mediakonferensie toespreek te midde van spanning in die MK-party
# En motorsport: FIA keur planne goed vir Kyalami om ‘n Graad 1-renbaan te word
# Die nasionale direkteur van Openbare Vervolging, advokaat Shamila Batohi, sê alhoewel die Timothy Omotoso-saak ‘n terugslag is in die stryd teen geslagsgeweld, is alles nie verlore nie. Die Nigeriese TV-evangelis is in April vrygespreek op talle aanklagte van seksuele aanranding en mensehandel. Die Nasionale Vervolgingsgesag appelleer teen die uitspraak al het Omotoso die land verlaat. Batohi het aan die Parlement gesê Omotoso kan steeds vervolg word indien die NVG se appèlaansoek slaag:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê Afrika kan en moet ontkoling en nywerheidsontwikkeling nastreef. Hy het op die 2025 Afrika-energieforum in Kaapstad die vals keuse tussen klimaatsoptrede en ontwikkeling verwerp. Ramokgopa beklemtoon 600-miljoen Afrikane is steeds sonder elektrisiteit en sê energie is ‘n basiese mensereg. Hy vra die integrasie van streeksenergie, hibriede befondsing en Afrika-geleide belegging om groen energie te ontsluit:
# Die voormalige sekretaris-generaal van die MK-party, Floyd Shivambu, hou vandag ’n mediakonferensie by die Mhulu Luxury Boutique Hotel in Midrand om dringende nasionale uitdagings en die huidige politieke klimaat te bespreek. Die verwagting was dat hy ná sy afdanking as ‘n parlementslid sou dien. Die nuuskonferensie volg na sy afwesigheid tydens die MK Jeugdag-optog en opmerkings deur Jacob Zuma wat as kritiek beskou is. Shivambu is die sesde sekretaris-generaal wat die afgelope 16 maande die rol verlaat het en sal na verwagting sy posisie verduidelik.
# Die Stad Johannesburg het die tariewe vir 2025/2026 goedgekeur wat volgende maand in werking tree. Die metro se nuwe tariewe beteken elektrisiteit kos 12,74-persent meer, water en riool styg met 13,9-persent, vullisverwydering met 6,6-persent en eiendomsbelasting met 4,6-persent. Die burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Margaret Arnolds, sê die tariewe is so saamgestel dat die metro voorkeur gee aan noodsaaklike dienste en arm gemeenskappe beskerm word:
# Iran se diplomatieke sending by die Verenigde Nasies ontken president Donald Trump van Amerika se bewerings dat Iranse onderhandelaars die Withuis wil besoek en sê geen amptenaar het gevra om by die Withuis se hekke te gaan kruip nie. Trump sê hy het Iran ʼn laaste waarskuwing gegee en oorweeg Amerikaanse militêre ingryping in dié land. Die sending sê Iran onderhandel nie onder dwang nie, en sal nie vrede onder dwang aanvaar nie.
# Motorsport: Die FIA-beheerliggaam het Kyalami se opgraderingsplanne goedgekeur wat dit die enigste Graad 1-baan in Afrika sal maak en die weg baan dat Formule Een na Suid-Afrika terugkeer. Die opgradering wat na raming sowat 180-miljoen-rand sal kos, sal nie die baan se uitleg verander nie, maar veranderinge insluit wat aan moderne veiligheid- en tegniese standaarde voldoen. Die FIA sê die werk moet binne drie jaar voltooi word. Kyalami het van 1967 tot 1993 altesaam 21 Grand Prix-wedrenne aangebied.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-1-sent teen die dollar, 20-rand-65-sent teen die euro en 24-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-641-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-380-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….